Editor's choiceLocal newsNews

Rocky leer by ‘die beste’ om rugby af te rig

Die sport administrateur van Hoërskool Die Anker, Rocky Truter, het onlangs, op uitnodiging van Saracens, ‘n week by die klub, wat in London gebaseer is, aangesluit om sy vaardighede in rugby-afrigting op te skerp.

Truter het die geleentheid gekry om skouers te skuur met internasionale spelers soos Owen Farrell, Alex Good, Chris Ashton, Jamie George, Jacque Burger en Brad Barrit.

Hy het ook daagliks saam met die afrigtingspan gewerk en meer te wete gekom oor alle aspekte van ‘n professionele rugbyklub.

“Om saam met die afrigters en spelers van Saracens te kon werk was absoluut ‘n onvergeetlike belewenis,” het Truter gesê.

“Dit is nou maklik om te sien hoekom Saracens die beste span in Engeland is.

“Die professionaliteit waarmee die spelers oefen en hoe die afrigters hulle behandel is ongelooflik.

“Saracens is ‘n familie-klub en hulle maak tyd vir mekaar op en van die veld af.

“Ek het in die week, wat ek daar spandeer het, baie geleer en wil dit graag terugploeg en toepas onder die afrigters en spelers van Die Anker ,” het Truter gesê.

Dit was darem nie net ‘n geval van harde werk nie.

Truter was ook bevoorreg om tydens sy verblyf in Engeland die Springbokke in die Wêreldbeker kwart- en halfeindstryd op Twickenham te gaan ondersteun.

“Alhoewel dit baie koud was en die pond natuurlik baie duur is, was dit die beste rugby-ondervinding van my lewe,” het Truter gesê.

“Ek is bevoorreg om nou en dan in Suid-Afrika saam met ‘n paar van die Springbokke gholf te kan speel.

“Toe ek van die spelers kontak en noem dat ek by Saracens was vir opleiding het hulle vir my kaartjies gereël vir die wedstryde op Twickenham.

“Om op Twickenham na die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks te kon kyk is iets wat jy nie vir iemand kan beskryf nie.

“Dit was ‘n onvergeetlike belewenis en die atmosfeer was onbeskryflik.

“Ek sou natuurlik net wou hê dat Bokke daardie wedstryd moes kon deurtrek.”

Lees meer berigte oor die rugbywêreldbeker hier

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button