Bekende in die vermaaklikheidswêreld saam met sy gesin beroof en aangerand

Die bekende teaterman, regisseur, skrywer en die hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, Frans Swart, sy vrou Hannelie, seun Frans-Hendrik en sy bemarkingsbestuurder, Charl Senekal, is Vrydagaand deur vyf gewapende rowers in hul huis en kantoor in Strubenvale oorval, aangerand en beroof.

Swart het bekendheid verwerf met die vervaardiging van produksies soos Groet die Grotman, My vrou se man se vrou, Demis Roussos en vele meer wat gereeld by Carnival City aangebied word.

Hy is ook betrokke by skole in die dorp en bied tans ’n revue kompetisie vir skole aan. Lefra Produksies bring ook Smokie na Carnival City van 9 tot 11 Oktober.

Swart sê hy was Vrydagaand omstreeks 6nm by die huis na ’n vergadering met sy advokaat.

“Nadat ek so bietjie in die huis ontspan het, het ek vir my vrou Hannelie gesê dat ek net gou ’n paar e-posse moet aanstuur,” het Swart verduidelik.

“Ek het net op my rekenaar, in my kantoor, begin werk toe ek die volgende oomblik drie gewapende mans voor my sien staan.”

“Vir ’n oomblik het ek nie geregistreer wat aangaan nie,” het Swart gesê.

“Dit het so onwerklik gevoel dat ek amper gedink het dis ’n grap. Hulle het my erg begin slaan en skop en my beveel om op die grond te lê met my gesig na onder.”

“Ek het baie gebloei en kon skaars asemhaal.”

Volgens Swart wou die rowers weet waar die kluis is en hy het aangedui waar dit is.

Op hierdie stadium het Hannelie uit die huis gekom om Swart te roep om te kom eet.

“Toe hulle my vrou sien, het hulle haar dadelik gegryp en ook by my in die kantoor kom neergooi.”

“Intussen het my seun, Frans-Hendrik, ons hondjies hoor blaf en ook uitgekom. Toe die rowers hom sien, het hulle hom ook gegryp en erg aangerand,” het Swart gesê.

Drie van die rowers het begin om veral elektroniese toerusting soos rekenaars, kameras en juwele te neem.

“Terwyl die drie die buit bymekaar gemaak het, het die ander twee ons aanhoudend geskop en geslaan.”

Volgens Swart sou hy en Senekal ’n vergadering gehad het en hy het die hele tyd gevrees dat Senekal op die toneel sou afkom.

Senekal, wat intussen wel opgedaag het, was heeltemal onbewus van wat aangaan is ook verras toe een van die rowers ’n vuurwapen teen sy kop gedruk het.

Ook hy is aangerand en na die sitkamer geneem waar ’n bank op hom omgekeer is.

Swart en sy gesin is later met dasse vasgebind en in die kantoor toegesluit.

Senekal kon hoor hoe die rowers met Hannelie se Mercedes wegjaag, waarna hy homself met ’n groot gesukkel losgewikkel het en die ander drie slagoffers te hulp gesnel het.

“Alle dank gaan aan die Here vir die feit dat ons nie geskiet is nie en dat hier ’n wonderwerk plaasgevind het,” het Swart gesê.

Verskeie toerusting, juwele, televisies en kameras, ter waarde van ongeveer R850 000 is gesteel asook die Mercedes Benz met ’n waarde van R480 000.

Die saak word deur die polisie ondersoek.

Lees ook:

Man (25) wrestles with hijackers

Minnebron man (24) recovers at home after being shot

Eight copper cable thieves arrested

Waarskuwing: Skelms se maniere om toegang tot jou huis te kry

Exit mobile version