CrimeEditor's choiceNews

Facebook geselsies lei na verkragting van Brakpan tiener

’n Saak van verkragting word ondersoek nadat ’n 19-jarige tiener, van die dorp, glo Woensdag in ’n parkeerarea in Queenlaan verkrag is.

Blykbaar het die tiener en die man, maar sowat ’n week gelede op Facebook begin praat.

Volgens die polisie het die man die tiener Woensdagoggend gebel en voorgestel dat hulle saam ontbyt moet gaan eet.

Die man het die meisie by haar huis gaan oplaai en aangedui dat hulle na ’n padkafee sou gaan.

Volgens inligting het die man aan haar gesê dat sy nie bang moet wees nie en dat hy slegs wou praat.

Hy het glo die voertuig se deure gesluit en na ’n parkeerarea in Queenlaan gery waar die beweerde verkragting in sy voertuig plaasgevind het.

Die tiener, het volgens inligting, probeer skreeu, maar die man het glo sy hand oor haar mond gedruk.

Na die voorval het hy blykbaar haar simkaart uit haar foon geneem en vir haar gesê om uit die voertuig te klim.

Die man, wat volgens sy slagoffer, in sy vroeë twintigs is, het weggery in ’n wit Volkswagen Polo.

Sy naam is bekend aan die polisie en die slagoffer kon aandui dat hy ’n student is wat glo in Germiston woon.

Die saak word deur die SAPD ondersoek.

Kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, het ’n ernstige waarskuwing aan jongmense gerig.

“Vreemdelinge moet onder geen omstandighede vertrou word nie,” het hy gesê. “Daar is mense wat sosiale media gebruik om lokvalle te stel vir niksvermoedende slagoffers.”

Kyk ook hier na ’n video oor hoe maklik sosiale media ingespan kan word om selfs bitter jong meisies uit hul huise te lok.

 

Related Articles

Back to top button