Local newsNewsSchools

Stoffies help ViA-Vinkie Kleuterskool

Daar was groot opwinding by die ViA-Vinkies Kleuterskool, op 11 Augustus, toe ’n afvaardiging van Hoërskool Stoffberg, die kleuterskool besoek het om ’n skenking van kos, klere en ander benodighede aan die kleuterskool te oorhandig.

As deel van die Hoërskool Stoffberg se gelukbringer, Stoffel, se derde verjaarsdagvieringe, is ’n fondsinsameling by die skool gehou en daar is besluit om die geld spesifiek aan te wend om ’n behoeftige kleuterskool te help.

Die kleuters het net oë gehad vir Stoffel, en kon nie ophou om rondom hom te kloek en drukkies uit te deel nie.

“’n Mens kon nie help om met hierdie aksie net weer eens te besef dat ’n skool soveel meer as net ’n plek van leer uit boeke is nie,” het ’n woordvoerder van Hoërskool Stoffberg gesê.

“Skole het ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap wat hulle bedien, en dit is wat Stoffberg ook uitleef.”

Die ViA-Vinkie Kleuterskool, wat in die Hervormde Kerk, Brakpan Gemeente se kerksaal gehuisves word, is die breinkind van ’n bekende oud-Brakpanner, Rina Aucamp.

Die ViA-Vinkies Kleuterskool bou die menswaardigheid van minderbevoorregte kinders en hul ma’s op verskillende wyses op. Marietjie Goller en Marthie van den Bergh, beide afgetrede onderwyseresse, tesame met Magda Hattingh, hanteer die kleuters op Dinsdae, terwyl Esther Rothmann oueropleiding en Bybelstudie vir die ma’s aanbied.

Jeanette Ehlers en Alta van der Merwe bied op Dinsdae kreatiwiteitsklasse vir die ma’s aan.

Van tyd tot tyd bied vroue wat voorheen aan Dames Aktueel behoort het, ook hul hulp en ondersteuning aan die ViA-Vinkie Kleuterskool.

Lees ook:

Geen keer aan Stoffies se rugbyspanne

Related Articles

Back to top button