Opvolg: Rower se lyk gekry nadat vrou in maag geskiet is

Een van die rowers wat gistermiddag (Woensdag) ‘n vrou in Brakpan-Noord in haar maag, en ‘n verbyganger in die been geskiet het, se lyk is later naby die Apex-sportgronde gevind.

Die vrou (63) het in McCullem straat met haar VW Polo gery toe sy geforseer is om stil te hou deur die insittendes van ‘n silwer-grys voertuig.

Volgens kapt Joep Joubert, die woordvoerder van die Brakpan SAPS, , het twee verdagtes die vrou oorval en het daar ‘n struweling oor haar handsak ontstaan.

‘n Man (40) wat toevallig daar verby gery het, het gesien wat gebeur en stilgehou om die vrou te help.

Een van die rowers het haar toe in die maag geskiet.

Die twee verdagtes het daarna van die toneel gevlug, met die vrou se sak, en in die verbygang op die man se voertuig geskiet.

Hy is in die linker been gewond en het toe verskeie skote op die rowers se voertuig gevuur.

Die Benoni SAPD is gister ongeveer 6nm in kennis gestel van ‘n lyk wat in ‘n sloot by die Apex-sportgronde lê.

“Na ondersoek het dit aan die lig gekom dat die lyk, dié van een van die rowers is,” het kapt Joubert gesê.

Die voertuig, wat tydens die voorval gebruik is, is ook terug gevind. Dit was egter ‘n silwer-grys Audi en nie ‘n BMW, soos voorheen vermoed is nie.

Volgens Joubert is die vrou steeds in ‘n ernstige maar stabiele toestand.

Haar handsak, wat gesteel is, het het die gewone items asook dokumentasie en sowat R600 kontant bevat.

Die ander verdagte is nog op vrye voet en die ondersoek duur voort.

Lees die oorspronklike berig hier

 

Exit mobile version