Local newsNews

Pa lieg oor kind (14) se dood

Lede van die Brakpan SAPD moes Woensdag ingryp nadat daar babelse verwarring ontstaan het, oor ‘n 14-jarige seun, wie se pa gesê het dat hy dood is, nadat hy Vrydagaand glo raakgery is.

Die seun is egter Woensdagoggend ongedeerd gevind, by ‘n plek vir haweloses in Boksburg.

Volgens inliging van die polisie het die kind saam met sy pa in Brakpan gewoon.

Die ma, van wie die pa geskei is, woon in Port Elizabeth.

Die man het Vrydagaand sy vervreemde vrou gebel en gesê dat die kind in Voortrekkerweg raakgery is en dat dit nie goed gaan nie.

Saterdagoggend het hy glo die ma gebel en gesê dat die kind oorlede is.

Die vrou het na Brakpan gereis en begin navraag doen, maar kon nie hond haaraf maak nie.

Die man was ontwykend en die ma kon nie besonderhede kry oor waar die kind se lyk sou wees nie.

Intussen het besorgde lede van die publiek, wat bewus geraak het van die kind se “dood”, by die SAPD begin navraag doen.

Die “tragiese nuus” het selfs by die kind se laerskool die rondte gedoen.

Woensdag het lede van die Brakpan SAPD die man opgespoor en na ondervraging is daar vasgestel dat hy die kind al verlede Dinsdag na die plek vir haweloses in Boksburg geneem het. Hulle het saam daar gebly.

Dáár het hy egter nog ‘n afskuwelike leuen vertel voordat hy die kind net daar gelaat het.

Die man het, volgens die polisie, Dinsdagoggend vir ‘n pastoor gesê hy moet na die Wes-Rand gaan, omdat sy dogter deur ‘n taxi doodgery is en dat hy begrafnisreëlings moet gaan tref.

Hy het sy 14-jarige seun daar gelaat en pad gegee.

Lede van die Brakpan SAPD het die seun Woensdagoggend gaan haal en in die sorg van sy ma geplaas.

Sy sal nou die kind saam met haar Port Elizabeth toe neem.

Volgens die SAPD is die man uitgeskop uit die plek waar hy en die kind in Brakpan gewoon het.

Dit is nie duidelik waarom hy met die storie oor die seun se dood vorendag gekom het nie.

Die polisie het aangedui dat geen klagte teen die man aanhangig gemaak is nie.

‘n Lid van die publiek, wat die seun baie goed ken, het die hele gedoente onder die aandag van die Herald gebring.

“Daardie kind is ‘n dierbare seun en ek hoop dat hy nou veilig en gelukkig by sy ma sal kan bly,” het die vrou gesê.

Related Articles

Back to top button