Local newsNews

Oud-onderwyser oorlede

‘n Welbekende en geliefde oud-onderwyser van die dorp is verlede Dinsdag oorlede.

Theo le Roux (87) het in die 42 jaar wat hy ‘n inwoner van die dorp was, diep spore getrap en vir ‘n magdom kinders skoolgehou.

Hy het gematrikuleer aan die Hoërskool Wolmaranstad, waarna hy in 1949 sy onderwysopleiding aan die Potchefstroomse Onderwys Kollege voltooi het. Hy behaal die grade BA en BEd.

Sy belewenis in die sink-koshuis, Tempels en later in die moderne steen-koshuis Ratau bly lewenslank staaltjies en het groot vermaak verskaf aan sy kinders en kleinkinders.

Theo het deur die jare onderwys gegee aan die volgende skole: Laerskool Commondale, Laerskool South Hills, Hoërskool Die Burger, Hartbeesfontein Senior Skool, Hoërskool Koster, Laerskool Krugersdorp-Oos, Laerskool Sannieshof, Laerskool Kommando en CVO Brakpan.

Hy was dan ook die hoof van die Laerskool Kommando vanaf Januarie 1973 tot Junie 1988, en die hoof van die Volkskool Brakpan vanaf Augustus 1993 tot Desember 1994.

Gedurende sy onderwysloopbaan het Theo op verskeie onderwysliggame gedien. Hy was by verskeie kultuurorganisasies betrokke en het op die kerkraad van verskeie gemeentes gedien.

Terwyl hy lidmaat was van die NG Kerk Dalview het hy gedien op die afstigtingskommissie van die Dalpark-gemeente, en was hy ook betrokke by die die bou van die nuwe kerk.

Die samesyn van sy gesin en familie was altyd belangrik en hy is gekenmerk deur vergewensgesindheid en deeglikheid. Elke taak, hoe gering ookal, is altyd met vasberadenheid en deursettingsvermoë deur hom aangepak.

Sy fyn humorsin was ‘n karaktereienskap wat deur almal rondom hom geniet is.

Theo se eggenoot, Katie (76), is in 2009 oorlede, 23 dae voor hul 58ste huweliksherdenking.

Die egpaar het drie dogters, vyf kleinkinders en twee agter kleinkinders.

Die begrafnis het Maandag vanuit die APK Kerk plaasgevind.

Lees ook:

Voormalige burgermeestersvrou oorlede

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button