Brief van ‘n vet vrou aan ‘n maer vrou

“Rolletjies” van Dalpark skryf: Ek is ‘n vrou (36) wat my hele lewe lank al met my gewig sukkel.

Nadat ek twee kinders gehad het, het dit nie veel gehelp nie en my  stryd met die skaal gaan seker nooit ophou nie.

Ek is ook nie skaam om te sê dat ek gereeld nuwe produkte, poeierties, pilletjies en salfies probeer om my gewig in toom te hou nie.

Daarby moet ek ook noem dat ek myself goed versorg. My man dink ek is die mooiste vrou op aarde. So ek is seker nie ‘n vet monster nie.

My ietwat positiewe siening oor myself het ongelukkig Vrydag ‘n groot terugslag gekry.

Ek was in ‘n winkel in die Mall@Carnival  en het in ‘n ry gestaan om by die kassier uit te kom.

Daar was ‘n baie mooi, skraal vrou voor my en ek het opgemerk dat sy twee produkte vir verslanking in haar mandjie het.

Ek het ewe vriendelik vir haar gevra of sy al voorheen die produkte gebruik het, en of dit werk.

Dit moes ek duidelik nie gedoen het nie: Sy het my op en af gekyk en gesê dit het absoluut niks met my te doen nie.

Haar volgende woorde het my egter baie sleg laat voel. Sy het vir my gesê: Miskien moet ek minder eet en leer om my neus uit ander mense se sake te hou.

Ek was so verbaas dat ek haar nie eens kon terug antwoord nie.

Ek het bloot ‘n ordentlike vraag gevra en ek weet nie waarom sy so kwaad geword het nie. Boonop het ek gedink sy is vreeslik mooi.

Ek hoop die blondekop vrou met haar wit sweetpak en tekkies lees hierdie brief.

Ek wil net vir haar sê dat sy baie gelukkig is om so mooi en maer te wees, maar haar skerp tong en aanvallende houding maak van haar ‘n baie, baie lelike mens.

Lees ook:

Samaritaan betaal hekgelde

Grootmense kan by kinders leer 

Exit mobile version