Vrou vertel van angsvolle oomblikke met vuurwapen teen haar kop

‘n 24-Jarige vrou van Brakpan-sentraal se afgelope lang naweek het op ‘n traumatiese wyse begin toe sy Vrydagmiddag (24 April) die slagoffer van ‘n breek-en-gryp insident geword het.

Angelique Harmse het die voorval as erg ontstellend beskryf en gesê dat dit beslis nie ‘n aangename ondervinding was om in die loop van ‘n vuurwapen vas te kyk nie.

Sy het Vrydagmiddag ongeveer 4.15nm vanaf haar werk in Primrose gery toe sy op die hoek van Mainreefweg en Stanleystraat stilgehou het.

“Daar het drie voertuie langs my stilgehou en ek het niks verdags opgemerk nie,” het Angelique gesê.

“Toe ek weer in my spieëltjie kyk het ek ‘n skaduwee aan die passasierskant gesien en die volgende oomblik het ek ‘n harde slag gehoor,” het sy vertel.

Dié slag was haar motorruit wat met ‘n vuurwapen stukkend geslaan is.

“’n Man het in my kar geleun en geskreeu dat hy my beursie (purse) soek. Hy het ‘n vuurwapen teen my kop gedruk,” het Angelique vertel.

“My handsak was tussen die twee sitplekke en die skouerband daarvan was om die rathefboom gedraai.”

“Ek het besef my lewe is in groot gevaar en ek het my handsak uitgegooi, waarna die man weggehardloop het.”

“Alles het binne sekondes gebeur en daarna het ek so gebewe, dat ek skaars kon bestuur,” het Angelique gesê.

Sy het oor ‘n rooi verkeerslig gery en ‘n entjie verder stilgehou.

“Ek het darem nog my foon gehad en kon my verloofde Hendrik Coetzee (31) kontak. Hy het my kom haal.”

“’n Mens lees en hoor van sulke voorvalle, maar wanneer dit self met jou gebeur is dit amper onwerklik. Ek wens dit vir niemand toe nie,” het Angelique, wat nie beseer is nie, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version