Nog ‘n slapende gesin beroof – dié keer nie in Brenthurst nie

Inbrekers het Dinsdagoggend by ‘n huis in Boababstraat, Dalpark, ingebreek; weereens terwyl die inwoners rustig gelê en slaap het.

Die Herald het verlede week berig oor drie soortgelyke voorvalle, wat in Brenthurst voorgekom het. (Drie gesinne beroof terwyl hulle slaap: Polisie waarsku weer)

Die Brakpan SAPD het terselfde tyd beklemtoon dat dié vorm van misdaad toenemend voorkom en dat die publiek groot versigtigheid aan die dag moet lê.

Hennie (47) en Anel Botha (44) het Dinsdagnag in hulle huis gelê en slaap toe Hennie ‘n geluid gehoor het.

“Dit het vir my geklink soos ‘n glas wat in ‘n wasbak om val,” het Hennie vertel.

”Ek het eers gedink ek verbeel my, maar ek het die geluid vir die tweede keer gehoor.”

Hy het opgestaan en deur die huis gestap. In die sitkamer het hy gesien dat die plasma televisie van die muur verwyder is. Dit het op die grond gestaan.

“Ek het toe besef dat daar groot fout is,” het Hennie gesê. By verdere ondersoek het hy gesien dat die rowers hulself al deegelik gehelp het.

Sy skootrekenaar, beursie, ‘n “Play Station” en duursame klere, wat in sy seun se kamer gehang het, was reeds gesteel.

Die diewe het toegang verkry deur ‘n houtvensterraam oop te forseer en die vensterknip af te haal. Daarna is die diefwering oop gebuig.

“Ek is oor die algemeen ‘n baie ligte slaper en ek kan nie glo dat hulle soveel kon vermag sonder dat ek wakker geword het nie,” het Hennie bygevoeg.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en dit word ondersoek.

Exit mobile version