Drie gesinne beroof terwyl hulle slaap: Polisie waarsku weer

Ten spyte van ‘n onlangse waarskuwing van die Brakpan SAPD, dat inwoners maar liewer met die een oog moet oop slaap, is daar die afgelope tyd by ten minste drie huise ingebreek terwyl die inwoners rustig gelê en slaap het.

Die Frost-gesin, van Hofmeyerstraat, Brenthurst, was verlede Donderdagoggend om ongeveer 3.25vm die teiken van inbrekers.

Tammy Frost vertel dat haar seun, Shane (21), wakker geword het en ‘n donker figuur in sy kamer opgemerk het.

Nadat Shane alarm gemaak het, het die persoon wat in sy kamer was op die vlug geslaan, maar nie voordat hy ‘n selfoon wat langs Shane gelê het, geneem het.

Die indringer het toegang tot die huis verkry deur die diefwering voor ‘n klein venster oop te buig.

“Die opening waardeur die dief gekom het was baie klein en dit is byna onmoontlik om te dink dat iemand daardeur kon pas,” het Tammy gesê.

“Ek sidder om te dink wat sou gebeur het as Shane nie waker geword het nie. Die dief was reeds deur die huis en hy het selfs my kleindogter, Shianne Frost (7), se kamerdeur toegemaak,” het Tammy gesê.

“Die hele ervaring was baie traumaties,” het sy bygevoeg.

Op die selfde aand, en basies op dieselfde tyd, het die inwoner van ‘n huis in Tweedylaan, Brenthurst, wakker geword toe sy huisalarm afgegaan het.

Die persoon het ondersoek gaan instel en twee indringers, by ‘n oopgeforseerde venster, opgemerk. Die inbrekers het op die vlug geslaan, maar twee selfone, wat in die huis was, is gesteel.

Die Jordaan-gesin, van Bothastraat, Brenthurst, het Vrydagoggend ook deel geword van die misdaad statitstiek toe daar by hulle huis ingebreek is.

Charmaine Jordaan (47) vertel dat sy en haar man, Danie (49),wakker geword het toe hul fox terrier, wat in die huis was, vreeslik te kere gegaan het.

“Dit hond se gedrag was heeltemal vreemd en Danie het gaan ondersoek instel,” het Charmaine gesê.

“Toe hy in die gang afstap het gesien dat ons televisie gesteel is,” het Charmaine vertel.

By nadere onderoek het die Jordaans agter gekom dat die dief of diewe ook toegang deur ‘n venster gekry het.

“Ons is besig om aan te bou en daar was nog nie diefwering voor dié spesifieke venster nie,” het Charmaine gesê.

Volgens haar moes die inbrekers ook hul sleutels, wat op ‘n tafel gelê het, gebruik het om die deur oop te sluit en die hek oop te maak, sodat hulle met die groot televisiestel die hasepad kon kies.

Charmaine is ook oortuig daarvan dat die inbrekers iets in die huis gebrand of gespuit het.

“Ons hondjie, wat normaalweg baie op en wakker is, het heeltmal abnormaal opgetree.”

“Ek en Danie het ook nie goed gevoel nie. Ons het kop- en keelseer gehad,” het sy bygevoeg.

Kapt Joep Joubert, woordoerder vir die Brakpan SAPD, het weereens gemaan dat inwoners groot versigtigheid aan die dag moet lê.

“Ons vind steeds dat inwoners nie snags hul vensters behoorlik toemaak nie; daar is selfs gevalle waar hekke wawyd oop staan,” het Joubert gesê.

Hy het dit beklemtoon dat klein op en wakker honde in die huis ‘n goeie afskrikmiddel is.

“Waar dit moontlik is moet inwoners ook gebruik maak van alarmstelsels, veiligheidshekke, ge-elektrifiseerde heinings en sekuriteitsligte,” het Joubert bygevoeg.

“Maar die basiese veiligheidsmaatreëls is altyd die belangrikste. Sluit jou deure, maak jou vensters goed toe, maak jou hekke toe, bêre jou sleutels op ‘n veilige plek en wees maar te alle tye waaksaam,” het Joubert gesê.

Die Brakpan SAPD het inwoners van die dorp onlangs gewaarsku.

Lees die berig hier: Polisie waarsku: Diewe slaan nou toe as mense slaap

Exit mobile version