Rumoerige inwoners is ‘n pyn

Inwoner van Minnebron skryf: Ek en my man werk albei baie hard. Ons kry min verlof deur die jaar en wanneer daar ‘n langnaweek, soos die pas afgelope Paasnaweek is, is ons baie bly vir die blaaskansie.

Ons kon dit nie bekostig om weg te gaan nie, maar het besluit om die vier daggies rustig by die huis, saam met ons twee kinders, deur te bring.

Dit was nie ‘n baie wyse besluit nie.

Ons bure het blykbaar ook besluit om by die huis te bly, maar van rustigheid aan hulle kant was daar nie sprake nie.

Ek kan nie glo dat iemand vir ‘n hele naweek lank na oorverdowende musiek kan luister nie. Dit het ook gelyk of die hele Brakpan die naweek daar oorgebly het.

Ek het nie ‘n probleem daarmee as mense kuier nie, maar dan moet dit binne perke gebeur.

Om dinge te vererger het hul honde die hele naweek geblaf en is daar op en af met voertuie en motorfietse gejaag.

Ons was te bang om hulle te vra om so bietjie te kalmeer, want die drank het vir vier dae nie opgehou vloei nie

Ek was ook skepties om die polisie te ontbied, want ek wou nie onmin veroorsaak nie.

Sulke mense wat nie hul bure en ander in ag neem nie is seker volop, maar hierdie mense wen loshande die eerste prys.

Ons naweek was baie goor en dit danksy daardie mense.

Ek glo hulle sal presies weet wie hulle is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version