Editor's choiceLocal newsNews

Man stap ver met houtkruis

Werner Gerber (31), ‘n inwoner van Minnebron wat ook bekend is as die “Soldaat vir Jesus”, het op 29 Maart ‘n houtkruis begin dra om mense bewus te maak van die ware betekenis van Paasfees.

Werner het sy “Stap van geloof” met sy groot houtkruis vanaf Minnebron tot by die Snake Road afrit op die N12 snelweg begin — ‘n afstand van 14km.

Daarna het hy op 3 April verder vanaf die Snake Road afrit gestap, vanwaar hy tot by die Delmas/ Bapsfontein afrit gevorder het.

Dié staptog het oor 29km gestrek.

“Ek het ongelukkig ‘n voetbesering opgedoen en moes eers ‘n biejtie rus voordat ek Sondag (4 April) verder kon gaan,” het Werner gesê.

Hy het sy staptog verder, na Bronkhorstspruit, aangepak en tot by die Mighty Family Conference (MFC) gronde gevorder.

Hier het Werner vir die mense van sy wedervaringe vertel toe hy in 2010 na Namibië gereis het, om die Woord te gaan verkondig.

Hy en twee ander vriende het destyds 5 340km gereis, waartydens hulle die een geestelike ervaring na die ander beleef het. Dié tog is met ‘n voertuig aangepak.

Werner het nog steeds nie opgehou stap nie en beplan om “Die stap van geloof “ voort te sit na Middelburg, soos die tyd dit toelaat.

“Dit gaan nooit oor die afstand nie, maar eerder oor die mense na wie ek uitreik,” het Werner gesê.

MEER FOTO’S

Related Articles

Back to top button