Benice Borman is genomineer vir Vrou van die Jaar

Benice Borman (32), 'n bekende inwoner van die dorp is onlangs genomineer vir die Finesse se Voelgoed-Doengoed Vrou van die jaar kompetisie.

Dié nominasie is maar een van ‘n rits prestasies en suksesvolle projekte wat dié fyn blondekop vrou tot dusver in haar lewe bereik of aangepak het.

Benice is ‘n uiters gewilde gospel sanger, besit ‘n kleuterskool (Laaities en Ladies), was in 2011 die eerste prinses in die Mev Verenigde Nasies kompetisie en was ook mede-aanbieder van Oos Rand Stereo se Wees ’n Engel projek.

Haar besige skedule het ook nie verhoed dat sy onlangs tyd gevind het om ‘n nuwe sekulêre CD uit te reik nie; wat haar vyfde CD op die rak sal wees.

Daarbenewens gaan sy ook te sien wees as mede-aanbieder vir die nuwe Afrikaanse program, My taal is musiek, wat vanaf Meimaand op kykNET musiek (kanaal 146) uitgesaai word.

Die program se eerste agt episodes is in Brakpan verfilm en van die inwoners kan selfs verwag om hulle gesigte op televisie te sien.

Alhoewel Benice ‘n baie besige skedule het, maak sy altyd tyd vir haar man, Sias Borman (37), en haar twee dogters, Kayla (13) en Denike (6).

“Ons is ‘n baie hegte gesin en hou van kamp en gaan doen dit wanneer ons tyd kan kry.

“Ek hou van die buitelewe. Dit is iets wat mense nie sommer van my verwag nie,” sê Benice terwyl sy lag.

Sias skryf die meeste van Benice se liedjies en dit lyk of Kayla en Denike beslis van hul ma se talente geërf het.

Beide die kinders het al rolle in flieks losgeslaan .

Kayla vertolk die hoofrol in ‘n nuwe Afrikaanse fliek, Gebore Talente, wat eersdaag begin draai. Die jonger Denike het ‘n rol vertolk in die Christelike fliek, Forsaken.

Benice is ‘n plat op die aarde mens wat uit haar pad uit sal gaan om behoefdigde mense te help.

“Net om mense se gesigte te sien ophelder is medisyne vir my siel,” het sy gesê.

“Ek weet hoe dit voel om te gaan slaap sonder kos.

“Ek wil graag mense se oë oopmaak, sodat hulle besef dat swaarkry reg onder ons neuse plaasvind.”

Benita van Loggerenberg, Benice se bestuurder en vriendin, het gesê dat, indien Benice as ‘n finalis in Finesse se Vrou van die Jaar kompetisie gekies word, sal mense die anderkant van Benice beleef.

‘n Artikel oor Benice verskyn in die April uitgawe van Finesse.

Die stemme vir die Voelgoed-Doengoed Vrou van die Jaar word tans aanlyn gedoen.

Mense wat graag vir Benice wil stem, kan so maak deur www.voelgoed.co.za te besoek.

 Kyk hier na ‘n video van een van Benice se liedjies:

Video: Youtube

Exit mobile version