Desperate mense plaas hul lewens op die spel: slaap oop en bloot in die wandellaan

Die Brakpan Wandellaan, wat eens ‘n lus vir die oog was en menige florerende besighede gehuisves het, word snags die slaapplek van soveel as 20 mense wat absoluut geen ander heenkome het nie.

Dié mense waag aand na aand hul lewens om oop en bloot te lê en slaap, baie van hulle op net ‘n stuk karton.

Dié skokkende feite het aan die lig gekom nadat die Herald onlangs berig het oor ‘n bejaarde man wat naby die wandellaan op ‘n sypaadjie bly (Man (58) bly al twee jaar op ‘n sypaadjie).

Lees die volledige berig hier

Talle mense het die Herald gekontak en gesê dat die man beslis nie die enigste een is nie.

By verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die wandellaan snags die slaapplek van baie hawelose mense word.

Die mense slaap oop en bloot op kartonbokse. Sommige het darem ‘n kombers of ‘n matras.

Meeste van hulle verkies dit om nie in gangetjies en onder bosse skuiling te soek nie.

“Dit is net te gevaarlik. Ons lê maar net so voor die winkels (waarvan die meeste verlate is), want dit is ‘n bietjie veiliger,” het een van die haweloses gesê.

Jackie (42) en Bennie (42) is twee mense wat die afgelope twee maande elke aand in die wandellaan slaap. (Hulle is nie getroud nie en het versoek dat hul vanne nie gepubliseer word nie).

“Ons het voorheen aan en af by die Jan Smutsdam gebly, maar ons is daar verjaag en het toe maar hier na die wandellaan gekom,” het Bennie gesê.

“Ons het darem ‘n matras en ons word nie te veel in die week gepla nie. Naweke en veral aan die einde van die maand is dit egter ‘n ander storie.”

Daar was juis onlangs ‘n voorval waar dié twee mense in die middel van die nag deur ‘n groep van agt of nege besope mans oorval is.

“Die mans het my erg geskop, maar gelukkig het Bennie wakker geword en toe het hulle weggehardloop,” het Jackie vertel.

Dit blyk dat elke individu sy eie tragiese verhaal het.

“Hier is mense wat geen familie het nie, hier is een ou wat heeltemal van dwelms afhanklik is; hier is ou mense en hier is jongmense,” het een van die haweloses gesê.

Hy het bygevoeg dat een van die wandellaan-slapers ‘n man is wie se been ongeveer ‘n jaar gelede gebreek is. Dié man het glo dringende mediese versorging nodig.

Jackie het ‘n werkie losgeslaan, deur ‘n tweedehandse klerestalletjie in die wandellaan te behartig. Haar vergoeding is minimaal, maar sy doen dit sonder om te skroom.

“Verder was ons maar karre, maar ons bedel nie,” het sy gesê.

Bennie vertel dat hulle by ‘n vriend gaan bad wanneer hulle kan en dat hulle van die publieke toilette in die wandellaan gebruik maak.

“Dit is regtig nie lekker nie, maar wat kan ek doen? Ek kry nie werk nie,” het hy gesê.

Jackie en Bennie is afhanklik van welsynorganisasies en ander ander vrywilligers vir kos.

“Daar is darem mense wat van ons weet en op ‘n weeklikse basis sop en brood of so iets kom uitdeel,” het Bennie gesê.

Elnette Labushagne (44) moes Dinsdag ‘n posstuk by die poskantoor, wat in die wandellaan geleë is, gaan afhaal.

Sy het haar misnoeë met die toestand van die wandellaan te kenne gegee.

“Ek kom nooit hier nie en ek kan nie glo hoe dit lyk nie,” het sy gesê.

”Ek hoop nie ek hoef ooit weer na hierdie poskantoor toe te kom nie.”

Haar verbasing was groot toe sy hoor dat mense snags oop en bloot in die wandellaan slaap.

“Ek het in die Herald gelees van die man wat hier naby slaap en dit was al erg genoeg,” het Elnette vertel.

“Ek weet nie wat gaan met hierdie dorp aan nie; dit is asof daar net elke dag meer en meer swaarkry is.

“Ek voel wel jammer vir die mense, maar dit is nie reg dat hulle hier slaap nie.”

Exit mobile version