Community AnnouncementsEditor's choiceNews

Leerder (14) van Die Anker wat sterf word Woensdag begrawe

Die ouers, vriende en familie van ‘n 14-jarige leerder aan Hoërskool Die Anker sal Woensdag (4 Maart) afskeid van haar neem, wanneer sy vanuit die Anistémi Bediening, in Grootvlei, begrawe word.

Carla Lemmer is verlede Maandagoggend vroeg in haar ouerhuis in Daggafontein oorlede, toe sy net na 5vm inmekaar gesak het.

Die sprankelende tiener was die afgelope twee jaar ‘n leerder aan Die Anker, waar sy baie gewild was onder haar maats, asook die onderwysers.

Carla se ma, Charmaine (37) het aan die Herald gesê dat die presiese oorsaak van haar kind se dood nog nie bekend is nie.
“Ons gaan nog baie lank wag om uitsluitsel te kry oor wat haar dood veroorsaak het; die nadoodse ondersoek kon geen lig daarop werp nie en ons moet wag sodat verdere toetse afgehandel kan word,” het Charmaine gesê.

Sy en haar verloofde, Wynand van der Merwe (43), is verlede Maandagoggend net na 5vm deur Carla wakker gemaak.
“Carla het in die deur van ons kamer gestaan en, nadat sy gesê het dat sy sleg voel, het sy omgedraai en in die gang ineen gestort.
Charmaine en Wynand was dadelik by haar en het besef dat daar groot fout was.

“Ons het dadelik ‘n ambulans ontbied en Wynand het gery om hulle langs die pad te ontmoet, terwyl ek mond-tot-mond asemhaling op Carla toegepas het,” het ‘n hartseer Charmaine vertel.
“Die paramedici was gou by Carla en het onverpoos gewerk om haar lewe te red.”
“Die mense het werklik alles in hul vermoë gedoen maar ons Carla is oorlede.”
“Sy was ‘n gesonde kind wat baie lief was vir hokkie en dans,” het Wyndand, wat vir haar soos ‘n pa was, gesê.

“Sy het juis baie uitgesien na die skool se hokkietoer, in April, en ek en sy het die Sondagaand, voor haar dood, nog spesiale materiaal om haar hokkiestok gedraai om die greep daarop te verbeter.

Carla se eie pa, Piet Lemmer, is vier jaar gelede oorlede.
“Ons probeer nog om tot verhaal te kom. Die een oomblik was ons sonskyn-kind nog saam met ons en nou is sy nie meer hier nie,” het Charmaine gesê.

Charmaine en Wynand het nog ‘n kind, Kaylee (2).

Related Articles

Back to top button