Vrou spuit kind by kleuterskool met tuinslang skoon: ouers is woedend oor skelm foto

“Ons is woedend vir die vrou wat die foto van ons kind geneem het en dit op sosiale media geplaas het. Sy het geen reg gehad om dit te doen nie.”

Dit is die gevoel van ‘n ouerpaar, nadat ‘n vrou Donderdag ‘n foto geneem het, van ‘n vier-jarige kind waar ‘n klashulp van ‘n kleuterskool besig was om sy boude met ‘n tuinslang skoon te spuit.

Die seuntjie het sy broek bevuil en omdat daar nie geriewe was om dit skoon te maak nie het die vrou die kind na buite geneem en hom skoon gespuit.

Ilze  Rudolph, wat naby die Doerlandy Kleuterskool bly, het die kind hoor huil en foto’s met haar selfoon geneem.

“Ek het gehoor hoe die kind huil en skreeu: `Mammie help my dis koud’” het Rudolph aan die Herald gesê.

“Ek het selfs vir die persoon gevra hoe sy dit kan doen maar sy het net voort gegaan om die kind af te spuit,” het sy bygevoeg.

‘n Erg ontstoke Rudolph het die foto op Facebook geplaas en ook die Herald gekontak.

Die Herald het die skool besoek en die foto aan die hoof  Charmain Venter getoon.

Haar verduideling was dat dit die eerste dag was, dat die kind die kleuterskool besoek het, en dat hy natuurlik vreemd was.

“Ons het nie fasiliteite in die badkamer om die kinders skoon te maak nie en sal onder normale omstandighede ‘n skottel gebruik om die kinders skoon te maak,” het Venter gesê.

“Die kind was egter baie bemors en die werker het seker gemeen dat die tuinslang die beste uitweg sou wees,” het sy bygevoeg.

Venter het bygevoeg dat sy die optrede glad nie goedkeur nie en dat sy beslis teen die onderwyseres en die klashulp gaan optree.

Sy het ook die situasie aan die ouers van die kind verduidelik toe hulle hom gaan haal het.

Die ouers, van die seuntjie, het die Herald se kantore besoek en aangedui dat hulle ongelukkigheid eerder teen die vrou, wat die foto geneem het, is en nie teenoor die kleuterskool nie.
“Dit was ons kind se eerste dag en  ek glo hy was bietjie senuweeagtig,” het die ma (21) gesê.

Ons is nie heeltemal tevrede oor die wyse waarop hy skoongemaak is nie maar ons het die verduideliking van die skoolhoof aanvaar en ons is tevrede dat sy teen die betrokke personeel sal optree,” het die pa (24) gesê.

“Toe ons, ons kind gaan oplaai het was hy kalm en rustig ons sal hom beslis weer terug neem na die skool toe.”

 

Exit mobile version