Vuurwerke klink soos oorlog

Talle inwoners van die dorp is erg ontsoke oor die onverantwoordelike gebruik van vuurwerke wat tot groot ontwrigting oor die feesseisoen, gelei het.

Die dorp het veral op Oujaarsaand soos ‘n oorlog geteisterde gebied geklink toe vrolike mense vuurwerke na willekeur afgevuur het.

Die Herald het ‘n groot hoeveelheid klagtes en briewe van ontsoke en bekommerde honde-eienaars ontvang. Baie mense se diere is nog steeds soek en daar was ook voorvalle waar diere beseer is.

Die metropolisie het dit duidelik gemaak dat dit onwettig is om enige vuurwerk te skiet naby diere, ouetehuise, vulstasies en brandstofdepots.

Dit blyk egter dat die waarskywings op dooie ore geval het aangesien baie mense lustig voortgegaan het om ander en hulle diere te treiter.

Hier onder volg sommige van die kommentaar wat lesers op die Herald se Facebookblad gelaat het.

(Sommige van die kommentaar is ietwat gewysig).

* Juan Pieterse: Toe Carnival City die vuurwerkvertonings gehou het was daar nooit so ‘n probleem nie want mense het dit daar gaan kyk. Nou dat Carnival dit nie meer doen nie, nou wil almal hul eie vertonings hou om die kinders te vermaak, ongeag van diere wat in die slag bly.

* Shirley Engelbrecht Holtzhausen: Dis omdat mense selfsugtig is dat diere daar onder moet ly.

* Marlaine Peenz: Hierdie jaar was baie erg gewees! Soveel honde het rond gehardloop in Minnebron op Oujaarsaand en selfs twee dae na die tyd. Het self een hondjie SPCA toe gevat. My eie diere het die heelnag in die huis weggekruip. Hulle moet die goed heeltemal verban!

* Ranie Pretorius: In Brakpan-Noord was dit net so erg. Hierdie mense het die IK van grond. Ek kan nie glo dat sogenaamde “beskaafde” mense so min vir hulle eie en ander se diere omgee nie.

* Sarie Watson: Ek wonder hoeveel diere is beseer, hul moet die goed verban.

* Liza-Marie Smith: My hond is nou nog getraumatiseer as dit donker word. Het die deur begin opvreet, probeer deur die diefwering klim en dit is nou al vyf dae later. Hy is nou kalmeer pille voorgeskryf, wat ek vir ‘n rukkie moet gebruik.

* Susan Jordaan Ek stem saam. Verban die gemors heeltemal. Ek bly ook in Brenthurst en was met vakansie gewees. Ons bure wat na ons honde gekyk het, sê dat hulle het die hele aand in hul hok gebly het. En hulle is amper nooit in die hok nie. Ons was in 2013 by die huis en toe was dit doodstil gewees.

* Johann van Aswegen: Jaar na jaar gebeur dieselfde dat diere moet ly onder die mens se selfsugtigheid ons moet saam staan en die owerhede vra om dit te verban in stedelike gebiede. Ek is bereid om die bal aan die rol te sit as almal hul ondersteuning sal gee in die verband. Help nie ons kla en doen niks daaraan.

Exit mobile version