Editor's choiceLocal newsNews

Kinders sal ly as die spesiale kleuterskool sluit

Daar was onlangs baie opgewondenheid, maar ter selfdertyd groot angstigheid tydens die gradeplegtigheidseremomie van die VIA-Vinkie Kleutergroep.

Die Brakpan-tak van Dames Aktueel, ‘n Afriaanse kultuurorganisasie, het dié kleutergroep sowat vier jaar gelede begin en het twee dae per week gratis klasse aangebied vir kleuters van vier tot ses jaar.

Die Suid-Afrikaanse kurrikulum vir graad R is gevolg en daar is veral aandag gegee aan verskillende aspekte van skoolgereedheid.

“Die projek is op die been gebring aangesien baie kinders van die dorp nie die voorreg het om na ‘n kleuterskool te gaan nie, boot omdat die ouers dit nie kan bekostig nie,” het Rina Aucamp, wat die groep gestig het, gesê.

Die groep het onlangs bymekaar gekom om die jaar met ‘n Kersspel af te sluit.

Elkeen van die kleuters en selfs ‘n paar van die boeties en sussies, wat die die jaar gereeld by die klasse gaan inloer het, het sy of haar rol met oorgawe vertolk.

By die geleentheid het dié kleinjies, wat volgende jaar skool toe gaan, ook aangetree vir ‘n gradeplegtigheidseremonie waar daar plegtig veklaar is dat hulle nou gereed is om hul skoolloopbaan met selfvertroue aan te pak.

Die kinders het ook kleurvolle boksies met heerlike eetgoed ontvang en die opgewondenheid het ‘n hoogtepunt bereik toe Kersgekenskenkies uitgedeel is.

Danksy talle skenkings is daar vanjaar weer genoeg fondse ingesamel om elkeen van die nege kinders, wat aanstaande jaar skool toe gaan, te voorsien van skoolklere, ‘n skooltas en al die skryf- en ander behoeftes wat deur die onderskeie skole voorgeskryf word.

“Vanjaar is daar weer genoeg bydraes ontvang om in al hierdie behoeftes te voorsien en ons stuur nege gelukkige kindertjies ten volle toegerus skool toe,” het Esther Rothman, ‘n vrywilliger en organiseerder van die projek gesê.

Alhoewel die VIA-Vinkies die jaar op ‘n hoë noot afgesluit het, bestaan daar egter groot kommer oor die voortbestaan van die groep.

Rina Aucamp, wat die taak die afgelope vier jaar grootliks op haar skouers geneem het, het intussen na Pretoria verhuis en indien daar nie vir haar ‘n plaasvervanger gevind kan word nie sal die kostelose kleuterskoolklasse nie kan voortgaan nie.

“Daar is ‘n dringende behoefte in Brakpan om die talle kleuters te help wat, as gevolg van hul ouers se finansiële situasie, nie ‘n kleuterskool kan bywoon nie,” het Rothman gesê.

“Ons wil bitter graag hê dat die projek in die nuwe jaar kan voort gaan en ons doen ‘n dringende beroep op persone wat betrokke wil raak om een van die volgende persone te skakel,” het Rothman gesê.

Rina Aucamp by 082 2663423, Esther Rothman by 011 9152839 of 082 7758497, of vir ds Pieter Uys by 011 7409678 of 072 2881291.

Die Nederduitsch Hervomde Kerk, Brakpan, sal steeds hul fasiliteite aanbied vir die kleuterklasse.

Related Articles

Back to top button