Man sterf slegs ure nadat mense vir hom geld insamel

‘n 37-Jarige man is Saterdagaand oorlede, slegs enkele ure nadat ‘n groep mense ‘n geldinsameling vir hom gehou het.

Die geld wat ingesamel is, sou aangewend word vir mediese behandeling, wat dié ernstige siek man dringend moes ondergaan.

Braam Liebenberg (37), van Springs, het egter Saterdagaand sy jare lange stryd teen diabetes verloor en is net na 8nm oorlede.

Die fondsinsameling het gepaard gegaan met ‘n “Aquathon”, wat wêreldwyd deur verskeie lande aangepak is.

Dié inisiatief vind jaarliks plaas en dit moedig deelnemers aan om vir drie ure saam in die water oefen.

Dit was vanjaar die tweede keer dat die projek by die Best Health Wellness and Fitness Sentrum in Dalview aangepak is.

Die eienaar van die sentrum, Arauna Bezuidenhout, was van Braam en sy omstandighede bewus en het besluit om die “Aquathon” ook in te span om fondse vir die siek man in te samel.

Braam se vrou, Dominique (38), het aan die Herald gesê dat hy reeds sedert sy kinderjare ‘n diabeet is en dat die siekte oor die jare sy liggaam erg afgetakel het.

“Braam moes verskeie mediese prosedures ondergaan maar, weens die feit dat ons nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, was dit nie altyd moontlik nie,” het Dominique gesê.

“Ons was baie dankbaar teenoor Arauna se goedgunstigheid en Braam was Saterdag self in sy rolstoel by die ‘Aquathon’ , alhoewel enige uitstappie vir hom geweldig uitputtend was,” het Dominique gesê.

“Ons is Saterdagmiddag, na die projek, huis toe en ‘n familievriend het Braam kom besoek.”

“Daarna het hy vir my gesê dat hy baie moeg was en dat hy wou gaan rus,” het Dominique vertel.

“Ek het nog saam met hom op die bed gesit en ek kon sien dat hy gesukkel het met sy asemhaling.”

Dominique het die hulp van nooddienswerkers ingeroep en alhoewel hulle alles in hul vermoeë gedoen het om Braam se lewe te red, is hy net na 8nm oorlede.

“My man het vir baie jare swaar gekry maar nou kan hy darem rus,” het sy vrou van die afgelope vyf jaar gesê.

“Die geld wat ons van Arauna ontvang het sal help om ‘n gedeelte van die begrafniskostes te dek.”

Arauna het gesê dat Braam se afsterwe baie hartseer is.

“Ons het basies die dag aan hom opgedra en dit is baie tragies dat hy nog die oggend saam met ons was en die aand oorlede is,” het sy gesê.

Meer foto’s

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version