Editor's noteLocal newsNews

Ancel het haar oog op die kroon

‘n 17-Jarige inwoner van Brenthurst is onlangs gekies as ‘n finalis in die Miss SA Schools 2014 kompetisie.

Volgens Ancel Morgenrood is die kompetisie nie ‘n skoonheidskompetisie nie, maar word dit eerder beskryf as ‘n ambassadeurskompetisie en meisies van reg oor Suid-Afrika kan daaraan deelneem.

“Ek is regtig baie opgewonde en dit is vir my ‘n eer om my skool, Hoërskool Die Anker, as ‘n ambassadeur te verteenwoordig,” het Ancel vertel.

‘n Vereiste van die kompetisie was dat Ancel ‘n gemeenskapsprojek moes aanpak. Vir haar het dit egter nie net by een projek gebly nie.

Sy het die afgelope tyd verskeie projekte, waarvan twee vir haar in besonder uitstaan, aangepak.

“Ek het gesien dat daar ‘n geweldige nood is onder mense wat probleme met hulle sig het,” het Ancel gesê.

“Ek het besluit om ten minste een persoon, wat ‘n bril nodig gehad het, maar dit nie kon bekostig nie, te help.”

Ancel het fondse ingesamel en die ontvanger van die bril het aan haar gesê dat daar ‘n “hele nuwe wêreld vir hom oopgegaan het”.

“Ek beplan om, in samewerking met ‘n plaaslike oogarts, van hierdie ‘n langtermyn projek te maak,” het sy gesê.

Ancel se ander projek het talle koshuis inwoners van Muriel Brand Skool se harte verbly.

“Ek het die skool genader en pamperlang-pakkies aan die meisies wat in die koshuise woon gaan uitdeel,” het sy vertel.

Ancel geniet die mode en skoonheid, maar sy glo daaraan om terug te ploeg.

Die mooi blondine het ‘n hele rits skoonheidstitels agter haar naam en het, tot dusvêr vanjaar, 11 titels bygevoeg.

“Ek is baie opgewonde oor die Miss SA Schools 2014 kompetisie,” het sy gesê.

“Dit gee vir ons die geleentheid om ons gemeenskappe te dien en ware ambassabeurs van ons skole te wees.”

Related Articles

Back to top button