Vrou klap kind so hard dat hy strompel

''Bekommerde ma'' van Dalview skryf: Ek het Maandag (6 Oktober) gaan inkopies doen by die Mall@Carnival.

Dis vakansie en daar was natuurlik meer kinders as gewoonlik. My kind was saam met my.

Ons was oppad na die ingang toe ek sien hoe ‘n vrou haar seun (ek skat hom so ses jaar oud) so hard teen die rug klap dat hy sommer vorentoe gestrompel en amper geval het.

Dit was regtig waar ‘n baie harde klap. Die kind het dadelik begin huil en die vrou het hom aan sy hemp geruk en gesê hy moet stilbly.

My dogter (9) was stomgeslaan. Sy was eintlik heeltemal onsteld oor die gedoente.

Toe die vrou sien dat ons haar aanstaar het sy die seuntjie, wat steeds gehuil het, aan die hand gegryp en vinnig weggestap.

Ek wil net vir hierdie vrou sê: Jou optrede is skokkend. As jy jou kind so in die openbaar te lyf gaan wil ek nie weet hoe dit by die huis agter toe deure gaan nie.

As my kind, wat maar nege jaar oud is, besef dat jy heeltemal verkeerd is, dan is daar nie veel hoop vir jou as ‘n moeder nie.

Ek weet nie wat die ou seuntjie verkeerd gedoen het nie, maar hy het beslis nie jou woedende aanval verdien nie.

My kind was so ontsteld sy wou gehad het dat ek die polisie moes ontbied.

Ek hoop dat jy en al die ander mense wat kinders mishandel hul koppe in skaamte sal laat sak en tot jul sinne sal kom.

Kinders is nie grootmense se slaansakke nie.

Mevrou, kry hulp, asseblief!

Exit mobile version