Man sonder broek lok seun (9) uit

‘n Nege-jarige seun van die Laerskool Brakpan-Oos het verlede Dinsdagmiddag baie groot geskrik toe ‘n half kaal man langs hom stilgehou het, terwyl hy besig was om homself te stimuleer.

Die kind is onder pleegsorg en sy pleegma het gesê dat die voorval uiters traumaties was, aangesien hy voorheen aan situasies van die aard blootgestel is.

“My kind het so groot geskrik. Hy was heeltemal uit asem en spierwit toe hy by die huis aangekom het,” het die ma gesê.

Sy vertel dat sy en ‘n buurvrou vir die seun gestaan en wag het.

“Ons bly net so ‘n blok of wat van die skool af en ek wag in die middae vir hom wanneer hy huis toe stap,” het die vrou gesê.

“Die wit bakkie het twee keer verby ons gery, maar ons het niks vermoed nie.”

Die kind was nie ver van sy huis af nie, toe die man langs hom stilgehou het en gevra het waar Die Arend was.

“My seun het gesê hy weet nie en toe het die man vir hom gevra of hy weet wat hy doen,” het die vrou gesê.

“Die man het basies teenaan my kind stilgehou en my seun het toe opgemerk dat die man nie ‘n broek of onderbroek aangehad het nie. Hy was besig om dade met homself te pleeg.”

Die verskrikte kind het na sy ouerhuis gehardloop.

“Dit is werliklik ontstellend. Ons het nie sulke mense in ons samelewing nodig nie,” het die vrou gesê.

“Die skool is bewus van die voorval en ons almal in die omgewing is op die uitkyk vir die wit Ford Batam bakkie.”

Exit mobile version