Huldeblyk aan Verna Els (Liewe Heksie se ma)

Almal wat met Liewe Heksie groot geword het, ken daardie wonderlike stem van Verna Vels so goed. Hier volg ‘n huldeblyk aan Verna Els deur Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies.

Liewe Heksie se ma is dood. Hoe onwerklik.

Ons almal wat met Liewe Heksie groot geword het, ken daardie wonderlike stem van Verna Vels so goed. Daar was eers Liewe Heksie op SIEMBAMBA, toe Heksie-boeke, toe die plate, toe die kassette, toe die CD’s en toe die DVD’s. Verna Vels het ‘n lang en vol lewe gehad, maar steeds bly dit so onwerklik dat ons nie meer ‘n Verna Vels in Afrikaans sal hê nie.

Ek is in Londen toe ek die slegte nuus kry. Dit reën in Londen. Dis mistroostig. Dis vaal en grou. Ek is nie in my land nie. En ek huil oor my baie goeie vriendin – Verna Vels. Skepper van Liewe Heksie en klomp ander kinderkarakters wat so eie aan Afrikaans is soos braaivleis en pap.

Ek het Verna as jong kameraman leer ken in 1975 met die koms van televisie. As aspirant skrywer het sy my toe al onder haar vlerk geneem. En dit is iets wat ek altyd van haar waardeer het. Die hulp wat sy aan jong kunsmakers gegee het. Ons werk saam aan Wielie Walie, Bennie Boekwurm, Vuurhoutjieland en toe maak ons saam drie televisiereekse van Liewe Heksie wat tot vandag toe nog op DVD verkoop word.

Verna het die wêreld van die kind verstaan. In die meeste gevalle ook die wêreld van die grootmens, want haar Liewe Heksie-stories is altyd deurspek met humor. Vyf jaar gelede het ek besluit Liewe Heksie moet verhoog toe gaan. Verna het dadelik vir my toestemming gegee om die verhoogverwerkings te doen. Ek spandeer ure met Verna se Liewe Heksie-verhale en verwerk toe twee verhoogproduksies uit verskeie van Verna se Heksie-stories. Weer besef ek met watter skat ons hier in Suid-Afrika sit in die vorm van die geliefde karakter, Liewe Heksie.

Verlede jaar drink ek en Verna tee in haar keurige huis in Brixton. Ek bekyk my aan al die skilderye. Ook aan al die toekennings wat Heksie deur die jare ontvang het. Op 80 beweeg sy nog flink en wakker. Eetgoedjies. “Self gebak!” sê sy met ‘n glinster in die oog. Egte porseleinkoppies. Ons gesels ‘n hond uit ‘n bos. Veral oor die lekker ou jare. “Verna,” sê ek versigtig. “Ek het ‘n nuwe Liewe Heksie storie nodig vir die verhoog.” Sy lag uit haar maag uit. “Nee man jy is mal! Ek is klaar geskryf aan Heksie. En jy weet soos mens ouer word, raak jy slegter. Ek is net te lui om te skryf.” Ek drink ‘n slukkie tee. “Nee, ek soek ‘n nuwe Heksie-storie en ons loods by Aardklop. Dis binne ‘n maand. En ek moet nog repeteer.” Weer lag sy heerlik uit haar maag. “Jy weet ek het nogal gedink ek wonder wat sal Heksie doen as sy ‘n tuindwergie ontmoet.” ‘n Week later kry ek ‘n oproep van Verna. “Frans kyk op jou rekenaar – daar is ‘n nuwe storie. Liewe Heksie en die Tuindwergie. Kyk maar of jy iets daarmee kan doen.” En nodeloos om te sê is dat LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE tans op die verhoog is en ‘n reuse sukses is.

Ons groet. Verna sê: “Wag net so bietjie.” Sy kom terug met die Heksie-Omnibus. Voor in die boek staan: “Vir Frans. Dankie dat jy so baie vir Heksie doen. Verna Vels”

Sy het tot haar dood toe nog as Toesighoudende Vervaardiger by Sewendelaan gewerk. Verna het graag gereis. Veral na haar geliefde Frankryk toe. Sy was so belese en dit was altyd vir my wonderlik om net na haar te luister. Verna Vels was ‘n besondere kunstenaar. Sy het vir ons ‘n ikoon nagelaat – Liewe Heksie, maar ook kleiner ikone soos Blommie Kabbouter, Koning Rosekrans, Kwaaitjie, Karel Kat, Griet die Perd, die Geelheks, die Gifappeltjies, Kwaaibaba, Mattewis en almal in Blommeland.

Ek salueer ‘n legende, maar ook iemand wat so plat op die aarde was en iemand wat net mens was. Die Legende – Verna Vels.

 

 

Exit mobile version