Honde naby onheilspellende veld vergiftig

‘n Inwoner van Fifeshirestraat, in Brenthurst, is woedend nadat twee van sy drie honde in die vroeë oggendure van Dinsdagoggend vergiftig is.

Henk Bronkhorst (56) se huis is reg oorkant die ou sportgronde van die destydse Hoërskool Hoogland geleë.

Dié gronde, wat totaal gevandaliseer is, en sedertdien die tuiste van talle haweloses geword het, sorg vir’n groot kopseer vir inwoners wat daar naby woon.

“Ons pleidooie om die onwettige plakkers en delwers te laat verwyder val op dooie ore en dit het eintlik gevaarlik geword om te bly waar ons bly,” het Bronkhorst gesê.

“Die plek is heeltemal onheilspellend.”

Hy het Dinsdagoggend, om ongeveer 5.40vm, na buite gegaan en opgemerk dat sy honde nie soos ouder gewoonte na hom toe gekom het nie.

“Ek het ondersoek gaan instel en gesien dat my twee chows reeds dood was. Die fox terrier het duidelik ook gif ingekry, maar ons kon daarin slag om die hond te behandel,” het Brokhorst gesê.

Volgens hom het die buurt se honde Maandagaand net na 11nm erg lawaai en, volgens ‘n buurvrou, was daar om 1vm op Dinsdag weer groot onrustigheid.

“Ek vermoed die booswigte het tussen daardie tye toegslaan,” het Bronkhorst gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version