Ongeluk eis pa, seun nog kritiek

‘n 46-Jarige inwoner van die dorp is Saterdagoggend noodlottig beseer in ‘n ongeluk, terwyl sy seun (23) ernstige nekbeserings opgedoen het en moontlik verlam kan wees.

Die ongeluk het om ongeveer 10.30vm op die ou Lokasiepad plaasgevind.

Jan Marais was aan die stuur van die Toyota RXi en het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor.

Hy en sy seun, Juan, is beide uit die voertuig, wat gerol het, geslinger.

Jan is op die toneel oorlede en Juan is met ernstige nekbeserings per helikoper na die Charlotte Maxeke Hospitaal in Johannesburg vervoer, nadat hy op die toneel gestabiliseer is.

Juan het eers Maandagaand gehoor dat sy pa, wat ook sy beste vriend was, oorlede is.

Volgens Jan se vrou, Gerda, het hy Saterdagoggend van sy werkplek in Kemptonpark af gekom en vir Juan gaan oplaai om ‘n familielid in Taftlaan te gaan besoek.

“Ons is nog nie presies seker wat gebeur het nie, maar ons weet dat die kar gerol het en dat my man en seun beide uit die voertuig geslinger is,” het Gerda gesê.

Nooddienswerkers was gou op die toneel en ‘n helikopter is ontbied om die erg beseerde Juan na die hospitaal te vervoer.

Volgens Gerda, wat sedertdien byna pal langs haar seun se hospitaalbed is, is daar ‘n moontlikheid dat hy permanent van sy nek af ondertoe verlam sal wees.

“Ons gaan egter nie moed opgee nie en ek hoop en ek glo dat my seun sal regkom,” het sy gesê.

Juan sou Dinsdagoggend ‘n operasie aan sy nek ondergaan.

“Ek glo dat die resultate positief sal wees,” het Gerda aan die Herald gesê.

Volgens haar was pa en seun onafskeidbaar.

Die oud-leerder van Hoërskool Die Anker het alles saam met sy pa gedoen.

“Hulle was groot vriende en het ‘n seldsame en hegte verhouding gehad,” het Gerda gesê.

Die Marias-gesin, wat die afgelope 24 jaar in Brakpan woon, het ‘n groot vriendegroep en baie mense het op sosiale media hul meegevoel met Gerda gedeel.

Sy en Jan het ook twee dogters, Lizelle (20) en Mareika (14).

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefininaliseer nie.

“Dit is oor twee weke ons 24ste huweliksherdenking en as ek dit kan bewerkstellig sal ek graag wil hê dat my liewe man op dié dag begrawe moet word,” het ‘n hartseer Gerda gesê.

Exit mobile version