Armes kry swaar in die koue

Die snerpende koue wat sedert Maandag met mening sy greep op Gauteng gekry het, het ook veroorsaak dat Brakpanners hul komberse en jasse nader moes trek.

Die koue is te wyte aan ‘n koue front wat Maandag oor die ooskus gewyk het, maar die uitwerking daarvan was ‘n sterk invloei van koue lug oor die binneland, wat die temperatuur verder laat daal het.

Organisasies, wat hulp verleen aan hawelose en minderbevoorregte mense, het ook, met die koms van die koue, hul hande vol.

“Daar is beslis ‘n toename aan mense wat by ons aanklop vir komberse of warm klere en kos,” het Mona Loubcher, hulpmaatskaplikewerker van die Ondersteuningsraad, gesê.

Loubcher is ook in beheer van die organisiasie se sypaadjiekombuis, waar haweloses en minderbevoorregtes daagliks ‘n bord kos ontvang.

“Ons ondervind elke winter ‘n toename in mense wat hulp nodig het en die huidige koue het beslis ‘n invloed,” het Loubcher gesê.

Colin Huma, van die Brakpan Rooikruis, het ook sy kommer uitgespreek en gesê dat haweloses veral snags baie swaar kry.

“Daar is organisasies en individue wat bedags die nood verlig, maar hierdie mense word snags aan ysige koue blootgestel,” het Huma gesê.

Volgens hom is daar baie mense wat snags sonder enige skuiling of selfs ‘n kombers moet slaap.

Die publiek, wat op een of ander manier wil help, kan vir Huma by 011 740-0074 skakel, of vir Mona Loubcher by 011 740-9310.

Exit mobile version