Editor's choiceLocal newsNews

Aapstreke by dié skool is baie aanvaarbaar

Wanneer Poppie Botes (54) soggens om 5vm opstaan om dinge vir haar kleuterskool agter mekaar te kry is dit ‘n vreeslike gedoente en dit verg fyn belanning om alles in gereedheid te kry voordat haar eerste “kind” reeds om 6.45vm afgelaai word.

Tyd en verdraagsaamheid vir aapstreke by dié kleuterskool is daar ook baie, aangesien al die “kinders” eintlik kapusynapies is.

Poppie is die trotse eienaar van die Queen Of The Jungle Monkey Crechè, in Hamiltonlaan.

Benewens haar eie twee apies sien sy daagliks na vyf ander kapusynapies om.

Die diere behoort almal aan werkende mense, wat verkies dat daar na hul “kinders” omgesien word, eerder as om hulle alleen by die huis te laat.

Poppie se groot liefde vir die apies het sowat drie jaar gelede begin, toe sy haar eerste kapusynapie, Kerneels, aangeskaf het.

“Die eerste keer toe ek hom by ‘n vriendin, wat ‘n teler is, sien het ek dadelik verlief geraak op hom,” het Poppie vertel.

Kerneels was net vir drie maande alleen toe Poppie vir hom ‘n maatjie, Amy, aangeskaf het.

“Ek het so bietjie nalees werk gedoen en agter gekom dat die apies baie gou eensaam raak; dit is belangrik dat hulle met ander apies in kontak kom en Kerneels en Amy het sommer gou onafskeidbaar geraak,” het Poppie gesê.

“Ek het altyd die twee in ‘n draagbare hok na my tuisnywerheid onderneming gevat en mense het altyd kom loer hoe dit met hulle gaan.

”Ek was baie in kontak met ander mense wat van die apies besit en het agter gekom dat sommige mense hul apies noodgedwonge by die huis moet laat wanneer hulle gaan werk.”

Sy het die tuisnywerheid gesluit en ‘n gedeelte van ‘n stoep by haar huis in ‘n groot hok omskep. Buite haar huis is nog ‘n groot hok, en die apies kan vrylik van die een na die ander beweeg in ‘n tonnel, wat van draad gemaak is.

Huidiglik sien Poppie daagliks om na vyf ander kapusynapies. Twee kom al die pad van Boksburg af.

“Die een word elke oggend afgelaai en in die middae opgelaai; die ander enetjie bly vir die hele week en gaan elke naweek huistoe,” het sy vertel.

Haar ander drie “kleuters” gaan ook elke aand huistoe.

Die apies word vroeg afgelaai, elkeen met sy eie doekesak, waarin die nodige versnapperings, doeke, kombersies en melkbottels is.

Poppie en haar man, Chris (47), staan elke oggend om 5vm op.

“Dit is nogal ‘n gedoente om al die vrugte en groente gesny te kry. Die binne- en buitehok word ook elke dag skoongemaak en dit neem nogal baie tyd in beslag,” het Poppie vertel.

Die apies drink ook almal formule melk, wat Poppie om die beurt vir hulle met ‘n bottel gee.

“Hulle kry ook tee in hul bottels, maar hulle skep self water om te drink, uit bakke wat in die hokke is.”

Dit is duidelik dat geen moeite ontsien word om die apies so gelukkig moontlik te hou nie.

‘n Magdom speelgoed, swaaie, hangmatte en selfs ‘n klein swembadjie word deur die apies benut.

Poppie vertel dat die apies deur die dag nie doeke dra nie, maar gewoonlik deur die nag.

“Ek bad my twee elke liewe aand en hulle geniet dit vreeslik,” het sy gesê.

“Dan sit ek vir hulle doeke aan en hulle slaap by ons in die kamer.”

Kerneels en Amy het hul eie bedjie en beddegoed wat teen aan Poppie en Chris se bed geskuif word.

“Ek gooi hul bedjie maar toe in die aand, want anders wil hulle die hele aand televisie kyk,” het Poppie gelag.

Al die kassies in haar kamer wat deur Kerneels en Amy oopgemaak kan word is vol speelgoed.

“Hulle weet watter kassies hulle mag oopmaak en hulle weet baie goed dat hulle aan niks op my spieëltafel mag raak nie,” het sy gesê.

Sy het ook vertel dat haar eie apies baie goed oor die weg kom met die vyf ander in die kleuterskool.

Hulle geniet mekaar en speel basies die hele dag met mekaar, wanneer hulle nie besig is om te eet of mekaar se vlooie uit te haal nie.

Sy gee toe dat die koms van haar twee haar en Chris se lewe drasties verander het.

“Benewens die feit dat ons R20 000 vir Kerneels en R25 000 vir Amy betaal het, is dit ‘n groot verantwoordelikheid; ’n mens moet 100 persent opoffer en baie toegewyd wees,” het sy gesê.

“Wanneer ons met vakansie gaan, gaan ons net na plekke waar hulle welkom is.

”Wanneer ons op ‘n uitstappie gaan is dit ook ‘n vreeslike gedoente, aangesien almal ons voorkeer om na ons “kinders” te kyk en aan hulle te vat.

“Ons was nou die dag by ‘n motorskou en arme Chris het nie veel van die motors te siene gekry nie.”

Poppie is ‘n baie groot diereliefhebber wat, buiten haar apies, ook drie bebaarde drake (‘n Australiese koggelmandersoort), twee papegaaie, drie hoenders, ‘n kat, agt hondjies, vier budgies en vyf marmotte het.

“Dit gaan maar rof in die oggend om vir al die diere kos te gee en dan nog vir my vyf besoekers ook te wag, maar ek verruil dit vir niks in die wêreld nie,” het sy vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button