Kapers steeds gesoek na skietery

Die motorkaper wat sowat vier weke gelede waarskynlik deur ‘n inwoner van Dalview gewond is, is steeds op vrye voet en word nog deur die polisie gesoek.

Die kaper se makker, wat ook gewond is en nie van die toneel kon vlug nie, het op 4 Junie in die landdroshof, op aanklagte van motorkaping en die besit van ‘n ongelisensieërde vuurwapen, verskyn. Die verdagte het weer Dinsdag in die hof verskyn.

Die skietery het op 21 Mei plaasgevind, toe ‘n inwoner van Dalview op twee kapers losgebrand het nadat hulle probeer het om in sy silwer kleurige Mercedes Compressor weg te jaag.

Die kapers het die man by sy huis in Alexandreastraat genader en beveel om die motorsleutels aan hulle te oorhandig.

Terwyl die mans nog in die proses was om agteruit te ry het die man, wat gewapen was, verskeie skote deur die voorruit van sy voertuig geksiet.

Die kapers het egter steeds daarin geslaag om weg te jaag.

Die bestuurder, wat verskeie kere getref is, het op die hoek van Athlonelaan en Tambotiestraat beheer oor die voertuig verloor en teen ‘n straatlig gebots.

Die gekaapte voertuig het tot stilstand gekom en dit is hier waar die kaper, aan die passesierskant, op die vlug geslaan het.

Volgens ‘n ooggetuie het dit voorgekom asof die man gewond was.

Volgens kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan SAPD, gaan die ondersoek onverpoos voort en word daar steeds na dié man gesoek.

Die 60-jarige inwoner, wie se naam bekend is, maar op sy versoek weerhou word, is nie tydens die voorval beseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version