Editor's choiceLocal newsNews

Reuse hupstoot vir projek

Die Herald se winterprojek, wat tans aan die gang is, het die afgelope week ‘n reuse hupstoot gekry toe twee groot skenkings gemaak is.

‘n Besigheidsman, wat versoek het om annoniem te bly, het 300 komberse vir die projek geskenk. Dit bring die hoeveelheid komberse wat reeds ingesamel is op meer as 400 te staan.

Pep Stores, in Brakpan, het van die projek te hore gekom en besluit om ook te help. Dié winkelgroep het die week nuwe baadjies, skoene en handskoene ter waarde van ongeveer R8 000 vir die projek geskenk.

Daarbenewens het talle inwoners ook reeds hul bydraes by die kollektepunt, in VC Super Spar, Dalview, gaan aflaai.

‘n Baie flukse inwoner van die dorp, wat ook gevra het om annoniem te bly, het vroeër die week by die Herald se kantoor opgedaag met 32 spinternuwe, handgebreide serpe.

Dié kleurvolle serpe is van dik wol gebrei en gaan beslis ‘n groot verskil in die winter maak.

Benewens die serpe, is daar ook 40 kindersweetpakke, wat deur die vrou en lede van haar gesin gemaak is, geskenk.

“Dit was maar so ‘n bietjie van ‘n spanpoging. Ons het materiaal wat ons gehad het, gebruik, en nog aangekoop om die sweetpakke te maak,” het die vrou gesê.

“Ek is baie opgewonde oor die belangstelling wat die projek vanjaar geniet,” het Heindrich Beytendag, bestuurder van VC Super Spar gesê.

VC Super Spar span jaarliks saam met die Herald om die projek aan te pak.

Die publiek en besighede kan nog vir die volgende twee weke nuwe of skoon, gebruikte komberse by VC Spar gaan aflaai.

Sokkies, wolmusse, serpe en kouse is ook welkom.

Die items wat ingesamel word sal aan welsynorganisasies oorhandig word, waarna dit dan onder minderbevoorregte en behoeftige persone versprei salk word.

Ons versoek vreindelik dat gebruikte goedere, wat geskenk word, in ‘n goeie en skoon toestand sal wees.

.

Related Articles

Back to top button