Vrou sien booswigte in erf skuil

Die vlaag van hondevergiftigings in die dorp gaan voort met nog ’n voorval wat oor die naweek in Minnebron voorgekom het.

Die 27-jarige eienaar van ’n huis in Roeties van den Bergstraat het aan die Herald gesê dat sy twee Labradors Saterdagoggend vroeg vergiftig is.

Die inwoner, wat gevra het dat sy naam nie gepubliseer word nie, het gesê dat hy net voor 2vm deur inwoners, wat reg voor hom woon, wakker gebel is.

“Die persoon het vir my gesê dat daar twee mans in hulle erf staan en in die rigting van ons huis kyk,” het die inwoner gesê.

“Ek het deur die vensters gekyk maar kon op daardie stadium nog my honde sien.”

Die bure, in wie se erf die booswigte geskuil het, het intussen die sektor polisievoertuig gebel en ook ’n alarm geaktiveer. Dit het veroorsaak dat die twee skelms die hasepad gekies het.

“Die polisie het opgedaag en ons het ondersoek ingestel maar nie besef dat my twee honde gif ingekry het nie,” het die inwoner gesê.

“Ek het een hond agter in die erf en een voor gelaat. ’n Rukkie later het ons gesien dat die hond, wat voor was, dood op die gras lê. Die hond, wat agter in die erf was, het gelê en ruk maar voordat ons iets kon doen is die dier ook dood.

Die 29-jarige vrou, wat die booswigte in haar erf opgemerk het, waar hulle agter ’n tuinmuur skuiling gesoek het, het gesê dat dit beslis nie ’n aangename ervaring was nie.

“Daar was eers net een man maar ’n tweede het bygekom. Dit was duidelik dat hulle gestaan en wag het dat die gif ’n uitwerking op die honde moet hê.”

“Hulle het na die huis gestaar. Gelukkig het ons wakker geword maar dit is jammer dat die honde moes dood gaan en dit is baie kommerwekkend om so iets te beleef,” het die vrou gesê.

Exit mobile version