Entrepreneurs kan inskryf

Inskrywings vir Solidariteit Helpende Hand se Entrepreneurskompetisie vir graad ses tot graad 12-leerlinge het Maandag ( 17 Februarie) geopen.

Deur hierdie kompetisie poog Helpende Hand om die probleem van werkloosheid onder die jeug aan te spreek, deur hulle vroegtydig met entrepreneursvaardighede te bemagtig.

“Die statistieke dui daarop dat dit vir jongmense al hoe belangriker word om entrepreneuriese vaardighede aan te leer, sodat hulle eendag in staat kan wees om hul eie ondernemings te begin, sou dit nodig wees,” het dr Danie Brink, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gesê.

“Met die aanleer van entrepreneuriese vaardighede vanaf ‘n vroeë ouderdom, sal jongmense beter toegerus wees om die toekoms aan te pak. Hierdie vaardighede sal ook verseker dat ‘n agterdeur oop is as dinge in die werksplek skeefloop.”

Die kompetisie word vanjaar vir ‘n tweede keer aangebied en die totale prysgeld beloop R60 000.

“Verlede jaar was die kompetisie ‘n reuse sukses en dit het ons aangespoor om dit vanjaar selfs op groter skaal aan te pak,” het Karin Venter, ‘n Helpende Hand projekorganiseerder bygevoeg.

“Die wenner sal wegstap met R15 000 om in sy of haar beplande besigheid te belê, asook R15 000 vir sy of haar skool, wat hulle kan aanwend vir entrepreneursontwikkeling.”

Die kompetisie bestaan uit drie fases, waar finaliste na elke fase deurdring na ‘n volgende rondte en sodoende toegang kry tot die materiaal vir die volgende fase.

Leerlinge kan inskryf op www.loopbaan.co.za.

Die sluitingsdatum vir die inhandiging van besigheidsidees is 2 Mei, 2014, en deelname is heeltemal gratis.

Vir meer inligting kan Karin Venter by 012 644 4390 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan karin@helpendehand.co.za.

Exit mobile version