Doodskis werk soos ‘n bom

Daar is baie maniere om jou eiendom te beveilig en te beskerm, maar die afskrikmiddel wat ‘n inwoner van Derbylaan by sy woning aangebring het laat die koppe behoorlik draai.

Mense wat verby George Heyns (47) se huis ry of loop word begroet deur ‘n doodskis wat op ‘n muurtjie bokant sy voorhek staan.

Die donkerhout kis met goue handvatsels is die ware Jacob, wat ‘n ruk gelede op ‘n geheimsinnige wyse in die oprit van George se huis beland het.

Hy het egter ‘n goeie vermoede oor hoe dit daar gekom het.

“Ek het sowat twee maande gelede wakker geword en die kis in die oprit gesien,” het George vertel.

“Dit was gelukkig leeg en ek het dit maar in die erf geneem en dit net daar gelaat.

“Ek het ‘n baie goeie vermoede dat dit vriende van my was wat vir my ‘n streep getrek het.”.

George het mettertyd gehoor dat verbygangers begin praat oor die kis wat in die erf staan.

Behalwe vir dié aardigheid is daar ook kennisgewings op sy heining wat aandui dat daar slange op die perseel aangehou word.

“Die stories dat dit ‘n `vreeslike’ huis is het gou begin loop; ek het ook so tussen die lyne deur gehoor dat mense maar baie versigtig is vir die kis en dat sommige mooi in hul spore trap wanneer hulle verby my huis loop.

“Ek het toe besluit om die kis op ‘n meer sigbare plek te plaas en die muur bokant die voorhek was die perfekte plek,” het George gesê.

“Nou kan niemand dit eintlik miskyk nie.”

George vertel dat mense gereeld voor sy huis stilhou en vra wat die storie van die kis is.

“Ek het nog nooit inbrake by die huis gehad nie, alhoewel daar op twee geleenthede voertuie uit die erf gesteel is.”

“Ek dink my waarskuwing oor die slange en die kis op die hek is voldoende afskrikmiddels om ongewenste karakters weg te hou.

George vertel dat hy wel luisslange in die huis aanhou.

Sy vrou, Susan stem nie heeltemal saam met George se doodskis-plan nie.

“Sy wou nie eens die ding in die erf hê nie en beslis nie op die hek nie, maar sy het intussen vrede gemaak met die idee.

“Ek is nie van plan om dit te verwyder nie. Die kis pla my nie en as dit ander mense pla is dit maar hulle probleem.”

Exit mobile version