Egpaar vier 60 jaar saam

Die dag toe Dirk (84) en Minnie (79) Kotze besluit het om in die huwelik te tree was hulle doodseker dat niks in hul pad van geluk en liefde sou staan nie.

Die egpaar, wat in Tweedy Park woon, het onlangs hul 60ste huwelik saam met vriende en familie gevier.

Beide kan nog goed onthou toe hulle destyds in Babsfontein getroud is, en deur die jare het hulle liefde net gegroei deur wedersydse respek, verdraagsaamheid en onvoorwaardelike toewyding aan mekaar.

Minnie is in Kempton Park gebore.

Haar pa, Ben du Plessis, was vir ‘n paar jaar burgemeester van die dorp en Du Plessis Straat is ook na hom vernoem.

Dirk is in De Aar gebore en het op verskeie dorpe vir die spoorweë gewerk, voordat hy sowat 20 jaar gelede afgetree het.

Alhoewel Dirk onlangs sy heup twee keer gebreek het, is albei nog baie gesond en stel hulle steeds ‘n goeie voorbeeld vir hul seuns, Dirk (59), Ben (58) en Chris (56).

Hul jongste seun, Ettienne, is ‘n paar jaar gelede in ‘n ongeluk oorlede.

Die egpaar is ook baie trots op hulle nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders.

“Ons is baie dankbaar dat ons vir soveel jare saam met mekaar kon wees; dit is werklik ‘n voorreg en ons loof die Here dat ons so geseën is,” het Dirk gesê.

Minnie se ma, Sue (96), woon ook in Tweedy Park, waar sy nog heeltemal selfversorgend en baie gesond is.

Exit mobile version