Local newsNews

Brandende olie sorg vir groot drama

‘n Inwoner van Stasieweg het verlede week weereens besef dat dit baie belangrik is om kalm te bly en reg op te tree wanneer daar ‘n krisis ontstaan.

Matilda Esterhuizen is dankbaar dat haar kombuis en moontlik selfs haar huis nie afgebrand het nie, nadat ‘n pot olie wat op die stoof was, aan die brand geraak het nie.

Sy en haar dogter, Madelein (21),het Woensdagaand gesit en televisie kyk toe hulle benoude oomblikke beleef het.

“Ek het vroeër die dag vetkoek gebak en die olie was steeds in ‘n pot op die stoof,” het Matilda vertel.

“Ek het ‘n plaat aangeskakel om die honde se kos warm te maak, maar nooit besef dat ek eintlik die plaat, waarop die pot olie gestaan het, aangeskakel het nie.”

Matilda en Madelein het besef daar is groot fout toe rook, komende van die kombuis, by die sitkamer ingeborrel het.

“Ons het albei na die kombuis gegaan en besef dat die kokende olie op die stoof gestaan het,” het Matilda vertel.

“Daar was soveel rook dat ons skaars voor ons kon sien en ek het paniekerig geraak.”

Die grootste fout wat Matilda kon maak was om die deksel van die pot af te lig en, toe daar vlamme ontstaan, dit met water probeer blus.

“Binne ‘n oogwenk was daar oral vlamme wat selfs teen die houtkaste bo-kant die stoof gebrand het,” het sy vertel.

Die twee paniekerige vroue het hul sekuriteitsmaatskappy se hulp, deur middel van die paniekknoppie, ontbied.

“Ons het ook my ander dogter,Yolanda, se verloofde,Malcolm Smit,gekontak en hy was gou hier.”

Die vlamme is onder beheer gebring voordat die brandweer, wat ook gou was, opgdaag het.

Madelein is vir rookinaseming behandel,maar benewens dit was die twee vroue ongedeerd.

“Ek is dankbaar teenoor almal wat gou gereageer het en voorkom het dat die kombuis verder brand; in die vervolg sal ek beslis baie versigtiger wees en nou weet ons dat dit baie verkeerd is om water op brandende olie te gooi,” het Matilda gesê.

‘n Woordvoerder van die Ekurhuleni Nooddienste het gesê dat dit beslis ‘n baie groot fout is om water in so ‘n situasie te gbruik.

“Dit is raadsaam om heel eerste die krag af te skakel. Indien daar nie ‘n deksel op die pot is nie is dit noodsaaklik om ‘n deksel daarop te plaas,” het hy gesê.

“Moet ook nie die pot of pan probeer skuif of enigsins hanteer nie.

“Water moet nooit op brandende vloeistof soos olie en brandstof gegooi of gespuit word nie.

“Fyn sand of ‘n brandblusser wat droë poeier spuit kan gebruik word. Dit is ook belangrik om kalm te bly in sulke situasies.”

Related Articles

Back to top button