CrimeNews

Oortreders moet geen genade verwag

Die Brakpan SAPD het sy kommer uitgespreek oor die toename in voorvalle van aanrandings en aanranding met die opset om ernstige liggaamlike letsels te berokken.

Talle van hierdie voorvalle is gepaardgaande met die misbruik van alkohol.

Volgens kapt Joep Joubert, woordvoerder van die Brakpan polisiestasie, was daar die afgelope tyd ‘n onaanvaarbare toename van dié tipe van oortredings in die dorp.

“Ons waarsku die publiek om nie die wet in eie hande te neem nie. Wanneer daar ‘n probleem ontstaan moet die polisie gekontak word om die situasie te hanteer,” het Joubert gesê.

Joubert het voorts versoek dat eienaars en bestuurders van persele waar drank verkoop word op hoogte moet bly van die drankwet en te alle tye volgens die wet optree.

“Geen drank mag aan minderjariges verskaf word nie, en ook nie aan persone wat reeds onder die invloed van drank is nie,” het Joubert gesê.

“Die Brakpan SAPD sal nie huiwer om te tree teen diegene wat die wet oortree nie en oortreders moet ook geen genade verwag nie.

“Lede van die publiek wat drankpersele besoek se gedrag moet te alle tyd binne die raamwerk van die wet wees anders kan streng optrede van die SAPD verwag word,” het Joubert bygevoeg.

Enige ongeruimdhede by drankpersele kan aan kapt Joubert of kapt Peet van der Schyff by 011 744-4940 gerapporteer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button