Motoris bars deur muur

Inwoners van Brodiganlaan in Dalview sukkel al etlike jare, en met goeie rede, om spoedwalle in die straat te laat aanbring.

‘n Klein wit bakkie het Saterdag in die vroeë oggendure deur die buitemuur van ‘n huis te 102 Brodiganlaan gebars, en in die tuin van die huis te 104 Brodiganlaan, teen ‘n boom, tot stilstand gekom.

Volgens Hans Dreyer het hy al lank gelede opgehou om bome op sy sypaadjie te plant of selfs tuin te maak.

“Ek kan nie eens meer onthou hoeveel motors al oor ons sypaadjie en dan deur ons muur geploeg het nie. Al die bome en plante is al om- of platgery” het hy gesê.

“Die huis sit op ‘n redelike skerp draai, en dit is maklik om beheer te verloor as jy te vinnig of onverskillig bestuur.

Die inwoner van dié woning het gesê dat hulle ‘n slag gehoor het en dat ‘n bebloede man by hul aangeklop het vir hulp.

Die vrou, wat verkies het om nie haar naam te noem nie, het gesê dat alles redelik deurmekaar was.

“Die persoon het mense gekontak en aan ons gesê dat hy later sy voertuig sou kom haal,” het die vrou gesê.

Dit was Maandag nogsteeds op die perseel.

“Hierdie probleem sal net opgelos word as ons spoedwalle in die pad kan kry,” het Dreyer gesê.

“Benewens die feit dat mense erg beseer kan word, sit ons ook telkens met die ongerief en skade wat herstel moet word,” het hy bygevoeg.

.

Exit mobile version