Man brand erg in smeulende kole

‘n 49-Jarige inwoner van die dorp het verlede Saterdag baie ernstige brandwonde opgedoen toe hy met sy fiets in ‘n smeulende asgat geval het.

Peter Kleynhans (49) het tweede en derde graadse brandwonde aan sy hande, arms bene en voete opgedoen en word steeds in die Life Dalview kliniek behandel.

Hy was sedert die ongeluk al vyf keer terug na die teater, waar die wonde skoongemaak en die dooie vel verwyder word.

Peter en sy seun, Matthew (20), gaan ry gereeld op hul bergfietse omdat hulle dit geniet, maar ook om oefening te kry.

Hulle het Saterdagoggend deur mielielande in die Dalview omgewing gery, in ‘n noordelike rigting, na Leachville se kant.

“Daar is ‘n groot hoop bestaande uit swart as of grond en ons het nie vir enige oomblik gedink dat dit moontlike gevaar kon inhou nie,” het Peter vanuit sy hospitaalbed gesê.

“Ek het voor Matthew gery en ek het ‘n groot plat area gesien, wat net soos ‘n oop stuk grond gelyk het.

“Dit was bruin, soos grond, en daar was absoluut geen tekens van rook nie; ek het ook geen hitte gevoel nie.”

Volgens Peter het sy fiets se voorwiel die volgende oomblik weggesak en het hy vorentoe, oor die die fiets geval.

“Ek het op my hande en knieë te lande gekom en die `grond’, wat eintlik fyn as was, het onder my begin meegee; ek was binne sekondes op smeulende kole,” het Peter vertel.

“Die skok en pyn was onmiddelik daar, maar ek kon daarin slaag om myself op te lig en het omgerol om uit die smeulende gat te kom, voordat ek verder weggeskink het.”

Matthew het gelukkig sowat 20m agter Peter gery, en nie langs hom nie.

“Ek het dadelik besef dat ek ernstig gebrand het en ons het die water wat ons by ons gehad het gebruik om die brandwonde ‘n bietjie af te koel,” het Peter gesê.

Die twee mans het besef dat Peter dringend mediese hulp nodig gehad het en het besluit dat die vinnigste opsie sou wees om met hul fietse na die Life Dalview kliniek te ry.

“Dit sou moeilik wees om ‘n ambulans te ontbied na die plek waar ons was, maar die rit na die hospitaal was nie ‘n maklike een nie,” het Peter vertel.

Sy vingers het erg gebrand, maar hy het handskoene gedra, wat fietsryers normaalweg dra, en dit het gelukkig verhoed dat sy handpalms brand.

“Die handskoene bedek nie jou vingers nie en al 10 het erg gebrand; ek kon skaars rem of die ratte verander, maar ons het darem by die hospitaal uitgekom,” het hy gesê.

Van die rooiwarm kole en as het ook by Peter se skoene ingegaan en brandwonde aan sy voete veroorsaak. Beide sy arms en sy bene het ook erg deurgeloop.

Peter is onmiddellik in die hospitaal opgeneem en behandel.

Hy is verlede Maandag en Donderdag, asook weer Saterdag en Maandag, na die teater, waar sy wonde onder narkose behandel is.

Volgens sy vrou, Elize, sou hy weer gister (Donderdag) en moonlik ook weer môre (Saterdag) behandeling in die teater ontvang.

Elize sê dat die hele voorval ‘n groot skok vir almal was. Dit is so ‘n buitengewone manier om seer te kry.

“Ons besef ook maar te goed dat daar ‘n lang pad vir ons voorlê,maar ons glo dat Peter hierdeur sal kom,” het sy gesê.

Die Herald is in die proses om uit te vind aan wie die grond behoort en watter moonlike stappe geneem kan word om verdere voorvalle soos dié te voorkom.

Exit mobile version