NewsSchools

Tieners reik uit na ander

Die aanklagkantoor van die Brakpan Polisiestasie het Vrydagmiddag ‘n goeie skoonmaak gekry, toe drie leerders van Hoërskool Die Anker daar ingevaar het.

Brümilda Borcherds, Mauricette Bold en Melissa Pyper het, gewapen met besems, moppe en lappe by die stasie opgedaag om die aangeklagkantoor so ‘n bietjie op te knap.

Hulle het ook die geleentheid gehad om met persone wat in aanhouding is te kommunikeer en, daarna, het die drie pamflette, met inligting oor misdaadbekamping, aan die publiek gaan uitgedeel.

Die aktiwiteite was alles deel van ‘n Ubuntu projek wat graad 10-leerders van die skool aanpak .

“Ons ervaring van Ubuntu het vir ons meer betekenis gehad as wat ons ooit sou kon droom,” het Brümilda gesê.

“Ons het gou geleer dat ons almal met verskillende probleme en situasies te make het en dat ons mekaar in tye van nood moet help om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak,” het sy bygevoeg.

“Toe ons by die Brakpan Polisiestasie gehelp het , het ons besef dat die kriminele daar nie as minderwaardig beskou moet word nie .

“ Hulle het net dalk nie die regte besluit gemaak toe hulle tussen reg en verkeerd moes kies nie.”

“Ons het dit besef toe een van die mense in aanhouding vir ons gesê het dat hulle nog steeds net mense soos ons is, maar dat hulle ‘n fout begaan het,” het Melissa vertel.

Die drie se Ubuntu ervaring het Saterdagoggend voortgeduur, toe hulle die inwoners van die Gold Reef Village aftree-oord in Minnebrond gaan besoek het.

Hulle het saam met die inwoners gekuier en almal bederf met eetgoed.

“Van die mense het gedink hulle moes ons betaal om die koekies te kon kry, maar met min oortuiging het hulle dit geneem en die dankbaarheid het uitgestaan soos ‘n paal bo water,” het Mauricette gesê.

“Die inwoners is almal te oulik en is die vriendelikste mense wat enigiemand kan teekom.“Ons het vinnig besef dat bejaarde mense nie aan hul eie genade oorgelaat moet word nie.”

“Hulle het ‘n behoefte om steeds deel van die samelewing te wees en nie alleen te wees nie.

“ Daar was een spesifieke inwoner wat ons harte aangeraak het. Sy is al vir sewe weke bedleend, weens mediese redes, maar al wat sy wil doen is om op te staan en weer te loop,” het Mauricett gesê.

“Sy het ons ook geleer om nie net aan jouself te dink nie maar ook ander mense rondom jou in ag te neem.”

“Ubuntu het ons geleer dat ons moet teruggee aan die gemeenskap omdat ons geseën is deur God; ons besef nie altyd dat sulke klein dade so ‘n groot verskil kan maak in iemand se lewe nie,” het Mauricette bygevoeg,

Related Articles

Back to top button