CrimeEditor's choiceNews

Dwelmsmouse word vasgevat

Die Brakpan Polisie het die afgelope naweek, in samewerking met die Noord-Oosrandse Honde-eenheid, 40 mense gearresteer in verband met dwelmverwante oortredings.

Dwelmmiddels soos kokaiene, dagga en cat is by die verdagtes gekonfiskeer. Hul ouderdomme wissel tussen 23 en 48 jaar.

“Ons is ten volle bewus daarvan dat dwelmmisbruik en die handel in dwelms ‘n groot en toenemende probleem in die dorp is, en ons doen alles in ons vermoeë om hierdie euwel hok te slaan,” het kapt Joep Joubert, woordvoerder vir die Brakpan Polisiestasie gesê.
“Dit is ‘n boosheid wat lewens verwoes en ons sal nie huiwer om oortreders vas te vat nie.”

Hy het bygevoeg dat soortgelyke optredes beplan word en dat die polisie selfs sover gaan om skole in die dorp te gaan deursoek.
“Ons wil ‘n sterk boodskap uitstuur dat die handel in dwelms, asook die besit en gebruik daarvan, onder geen omstandighede geduld sal word nie,” het Joubert vertel.

Hy het ook ‘n beroep op die publiek gedoen om enige nuttige inligting wat die SAPD kan help, deur te gee.
Die publiek kan kapt Joubert by 011 744-4940 kontak.
Alle inligting wat ontvang word sal konfidensieël bly.
Die persone wat oor die naweek aangekeer is sal in die hof verskyn, op aaklagte van die besit van onwettige middels, asook vir die handeldryf daarin.

Related Articles

One Comment

Back to top button