Editor's choiceLocal newsNews

Beseerde seun (12) hardloop 3km vêr om hulp te kry na ongeluk

‘n 12-Jarige seun het Saterdagmiddag sowat 3km na sy ouerhuis gehardloop, nadat hy en sy pa in ‘n ongeluk betrokke was.

Pa en seun was op ‘n motorfiets onderweg na hul huis, toe hulle in Voortrekkerweg teen ‘n voertuig gebots het.

Die ongeluk het net na die skerp draai, voor Jacks Paint, plaasgevind, waarna Juandré Barnard na sy huis in Milnerlaan, Brakpan-sentraal, gehardloop het.

“My kind is ons hero,” het sy ma, Deseré, aan die Herald gesê.

“Hy het so groot geskrik, maar hy was so bekommerd oor Chris (31) dat hy net by my wou uitkom.

”Hy het die sowat 3km so vinning gehardloop as wat hy kon.”

Die kind het boonop twee dik baadjies aangehad en hy het die swaar valhelm, wat hy gedra het, in sy hande gehad terwyl hy gehardloop het.

Chris het Saterdagmiddag vir Juandré by ‘n familielid in Dalpark gaan haal. Die motorfiets is die gesin se enigste vervoermiddel en dit is nie die eerste keer dat Juandré saam met sy pa gery het nie.

“Toe Chris die motor tref, het Juandré bo-oor sy pa getrek en eers op die voertuig se enjinkap te lande gekom, voordat hy in die straat geval het,” het Deseré vertel.

Die kind het dadelik opgespring en na sy pa gehardloop.

“Chris, wat in pyn en skok was, het gesê dat Juandré my moet laat weet en dit is waar ons kind besluit het om so gou as moontlik by my uit te kom,” het Deseré vertel.

“Toe hy by die huis aankom, was hy uitasem en het net gesê dat sy pa in ‘n ongeluk was.

“In die skok en verwarring het ek nie besef dat Juandré saam met Chris op die motorfiets moes gewees het nie. Ek het by die hek uitgehardloop, onder die indruk dat die ongeluk naby ons huis gebeur het.”

Dit is toé dat Juandré vir haar gesê het dat die ongeluk in Dalview was.

“’n Vriendin het my na Chris geneem en eers toe ek by hom kom, het hy gevra waar Juandré is,” het Deseré vertel.

Dit is toe dat die feit dat haar seun ook in die ongeluk was by haar ingesink het.

“Ek het mense by ons huis gekontak om vir Juandré terug te bring na die ongeluk, en met groot skok besef dat die kind ook beseer kon wees.

“Toe Juandré weer by die ongelukstoneel aankom, glo ek, het hy alles weer herleef en het hy toe vir die eerste keer aangedui dat hy wel pyn verduur,” het Deseré gesê.

Chris is na die Verre Oos-Randse Hospitaal vervoer, waar hy vir onder meer ‘n beenbesering behandel is, en Juandré is na ‘n hospitaal in Wattville geneem.

“Genadiglik het my kind niks gebreek nie. Danksy die dik lae klere wat hy gedra het, het hy ook nie ‘n skrapie opgedoen nie.”

“Hy het wel sy lae rug en nek seergemaak, en hy sal vir ‘n paar dae met ‘n nekstut oor die weg moet kom,” het Deseré gesê.

Chris is ewe trots op sy seun.

“Toe hy gevra het of ek ‘ok’ is, het ek net ‘ja’ gesê, en dat ons sy ma moet kontak. Ek het nie vir een oomblik gedink hy gaan huistoe hardloop nie,” het hy vertel.

“Sy enigste kommer was oor my en hy het soos ‘n ware held opgetree.”

Juandré, wat ‘n leerder aan die Laerskool Brakpan-Oos is, sê dat hy baie groot geskrik het en baie vining gehardloop het.

“Ek wou maar net my pa help,” het die seun gesê.

Related Articles

Back to top button