Editor's choice

Welbekende inwoner van die dorp geskiet: Man skiet haar en toe homself

‘n Wel bekende vrou van die dorp, Roosmarie de Jager (44) is in ‘n ernstige toestand in ‘n privaathospitaal in George nadat sy Vrydagoggend deur ‘n man geskiet is.

Die man, wat haar in die been geskiet het, het die vuurwapen daarna  op homself gerig en hom in die gesig geskiet.

Hy is in ‘n bedenklike toestand, ook in ‘n hospitaal in George.

Die voorval het Vrydagoggend ongeveer 12.35nm op die N2 tussen Heroldsbaai en Glentana plaasgevind.

Volgens kapt Malcolm Pojie, ‘n polisiewoordvoerder vir die area, het die twee Vrydag van George na die vrou se blyplek in Groot Brakrivier gery.

Sy was ‘n jarelange inwoner van die dorp en het ‘n paar weke gelede verhuis.

‘n Persoon, wat die vrou goed ken, het aan die Herald gesê dat daar glo ‘n argument in die voertuig onstaan het.

Volgens kapt Pojie het die man sy bakkie langs die N2 tussen Heroldsbaai en Glentana tot stilstand gebring.

Dit is hier waar twee motorfietsryers by die bakkie stilgehou het.

Dié mans het provinsiale verkeersbamptes daar naby verwittig.

“Die verkeersbeamptes het gaan ondersoek instel en die man het die vrou toe in die regter bobeen geskiet,” het kapt Pojie gesê.

Die man het glo weggejaag maar na sowat tien minute teruggekeer en op die verkeersbamptes afgejaag.

Hy het volgens Pojie beheer oor die voertuig verloor en  dit het tot stilstand gekom teen die rand van die pad.

Die man het toe sy vuurwapen uitgehaal, dit onder sy ken gedruk en homself geskiet.

Kapt Pojie het Dinsdag aan die Herald gesê dat die man se toestand steeds kritiek is.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.

Roosmarie de Jager was in 2010 ‘n finalis in die Lady Gracious kompetisie, waar sy die styl afdeling gewen het.

Die naam van die skieter is bekend aan die Herald maar word op hierdie stadium weerhou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button