Editor's choiceLocal newsNews

Bejaarde se huis is net ‘n bed op ‘n sypaadjie — leef al twee jaar lank so

Francois Nel (58) se huis is die afgelope twee jaar ‘n sypaadjie in Kingswaylaan.

Dié bejaarde man, wat, onder andere, aan epilepsie ly, het geen ander heenkome nie en die bed, wat hy eers onlangs gekry het, staan oop en bloot op die sypaadjie, wat die afgelope twee jaar al sy tuiste is.

Voordat ‘n weldoener vir hom ‘n bed gegee het, het hy op die harde, koue en ongelyke sypaadjie geslaap. Daarna het hy darem ‘n matras gekry en nou het hy ‘n bed.

Vir hom is dit hemels om in die aande op ‘n bed te kan slaap.

Francois, wat, as gevolg van polio, ook nie die normale gebruik van sy regter arm en linker been het nie, voer die afgelope twee jaar ‘n sukkel bestaan op sy plekkie in Kingswaylaan.

Elke dag is ‘n stryd om oorlewing. Die netjies opgemaakte bed en blou plastiek stoel is basies al wat hy besit, behalwe vir ‘n paar ander persoonlike besittings wat hy onder sy bed wegsteek.

“Ek moet maar my goed mooi oppas, want dit word gereeld gesteel,” het hy gesê.

Hy het 22 jaar gelede sy werk verloor en kon sedertien nie weer op sy voete kom nie.

Hy het op ‘n stadium ‘n ongeskiktheidspensioen ontvang, maar sy identiteitsboekie het weggeraak en nou kan hy ook nie meer dié toelaag ontvang nie.

Francois is ‘n bekende gesig in die Kingswaylaan omgewing (naby Shoprite Checkers) en bly aan die lewe deur voertuie op te pas.

“Dit is maar stil hier en party dae maak ek nie eens ‘n sent nie; op ‘n baie goeie dag kan ek darem so paar rand in my sak steek,” het hy vertel.

Volgens Francois hey hy al baie winternagte gebibber van die koue en hy is juis bekommerd oor die winter wat nader kruip.

“Ek het al baie aande nat gereën ook, en natuurlik is daar mense wat my kom pla en selfs aanrand in die nag,” het hy vertel.

“Al die plekke wat hawelose mense inneem wil geld hê en ek het nie geld nie.”

Hy vertel dat hy wel bang word in die aande, maar dat hy gereeld sy Bybel lees en glo dat hy beskerm sal word.

Francois gebruik die publieke toilette by die wandellaan, maar hy sê dat hy nooit te lank kan wegbly van sy karige besittings nie, aangesien dit gesteel word.

“Ek wou nie hê dat my lewe so moes uitdraai nie, maar ek het geen ander keuse nie,” het hy gesê.

Francois was getroud, maar is jare gelede geskei en hy het ook geen kontak met sy kinders nie.

Hy het ‘n broer, Johan (49), wat self sukkel en nie vir hom ‘n heenkome kan bied nie.

“Ek klim maar elke aand so teen 8nm se kant in my bed en hoop dat ek die sonlig weer sal sien,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button