Editor's choiceLocal newsNews

Blonde vrou steel hondjie, jaag weg

‘n Blonde vrou het Sondagmiddag doodluiters ‘n inwoner van Brenthurst se hondjie na die heining geroep, haar hand deur die palisade gesteek, die hond gevat, in ‘n voertuig geklim en weggejaag.

Jackie van der Riet (31), van Tweedyweg en die eienaar van die nege week oue Biewer Yorkie, kan steeds nie glo dat iemand so blatant kan wees nie.

Jackie het Sondagmiddag om ongeveer 5nm vir Mimi en haar ander Yorkie, Cloe, na die voortuin geneem sodat hulle hul besigheid kon doen.

Sy het Mimi verlede Maandag vir R1 800 gekoop, en Cloe het sy sowat twee maande gelede gekoop.

“Ek het juis ‘n afspraak gehad sodat die hondjies Maandag hulle inspuitings kon kry, en ek sou ook mikroskryfies laat inplant het,” het Jackie vertel.

Terwyl die hondjies voor in die erf was het Jackie gou in die huis gegaan om aandag aan haar twee-jarige seun, Ryan, te gee.

“Ek was net ‘n paar minute in die huis en toe ek buite kom het ek ‘n wit Toyota (ou tipe) voor my huis sien staan,” het sy vertel.

“Daar was ‘n vrou by die hek en ek het nader beweeg om te hoor wat sy wou hê.

“Tot my verbasing het ek gehoor sy roep die hondjies nader. Sy het haar hand deur die palisade heining gedruk en vir Mimi gegryp.

“Sy het in die Toyota gespring, waarin ‘n man agter die stuurwiel gewag het, en hulle het vinnig weggejaag.”

Jackie se sussie, Zelda Stroop, het onmiddellik in haar voertuig geklim om die mense agterna te sit.

Sy moes egter wag vir die elektroniese hek om oop te skuif, en teen die tyd dat sy kon ry, was die honde diewe reeds weg.

“My sussie het sowat 40 minute rondgery maar daar was geen teken van daardie man en vrou of hulle voertuig nie,” het Jackie gesê.

Volgens haar, is die vrou in haar 40s en was haar blonde hare in ‘n poniestert.

“Dit is baie moeilik om die hele episode te verwerk. Dit het so vinnig gebeur en ‘n mens kan eintlik nie glo wat jou oë sien nie,” het Jackie gesê.

Enigiemand wat vir Jackie kan help met inligting kan haar kontak by 081 442 4639.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button