Editor's choiceNewsSchools

Die Anker se nuwe hoof is op sy pos

Nie net vier Hoërskool Die Anker vanjaar sy 10de bestaansjaar nie, maar die skool het ook sy nuwe hoof op die eerste skooldag van 2015 welkom geheet.

Johan Snyman (52) het die leisels oorgeneem by George Nell, jare lange hoof van die skool, wat aan die einde van 2014 uit die onderwys getree het.

Alhoewel daar gerugte van ‘n dispuut was oor die aanstelling van Snyman, gee hy die versekering dat al die prosedures gevolg is en dat sy aanstelling geldig en finaal is.

Snyman was vir die afgelope nege jaar die adjunkhoof by Dr Johan Jurgens, maar hy is darem nie heeltemal ‘n vreemdeling op die stoepe van Die Anker nie.

Hy was vir 10 jaar departementshoof van die skool, toe dit nog bekend gestaan het as die Hoër Tegniese Skool Brakpan (HTS Brakpan en die Hoërskool Hoogland het saamgesmeld om Die Anker te vorm).

Snyman maak geen geheim daarvan dat hy uitsien na die nuwe hoofstuk in sy lewe nie.

“Die eerste paar dae was maar bietjie rof, maar ek is baie dankbaar vir George Nell, wat ‘n skool agter gelaat het, wat in ‘n goeie toestand is,” het hy gesê.

“George het tot en met sy laaste dag die belange van hierdie skool eerste gestel en hy het die hele oorgangsproses geweldig goed bestuur.”

“Dit gaan wel ‘n uitdagende taak wees om in Nell se voetspore te volg, maar aan die ander kant het hy dit vir my vergemaklik deur die stewige fondamente wat hy gelê het,” het Snyman gesê.

“Hy het beslis die skool eerste gestel en gesorg dat daar geen vorm van onsekerheid of chaos sal wees wanneer iemand by hom oorneem nie.”

Snyman sê dat hy ‘n gemotiveerde en toegewyde groep personeellede gekry het om die pad vorentoe aan te pak.

Waaraan hy beslis aandag gaan gee is om die algemene dissipline by die skool op te skerp.

“Ek gaan baie aandag gee aan werksetiek. Leerders moet besef dat hulle skool toe kom om te leer. Dit is die eerste prioriteit,” het hy gesê.

“Al die ander dinge kom daarna. Sport in enige skool is baie belangrik en ek self is lief vir sport, maar dit moet nie voor akademie gestel word nie.”

Snyman het gesê dat hierdie ‘n groot jaar vir die skool is, aangesien die 10de bestaansjaar van Die Anker gevier word.

“Ek wil ‘n beroep op die ouers en ook oud-leerders maak om betrokke te raak by die skool,” het hy vertel.

“Die skool vorm deel van die gemeenskap en dit gaan my en die onderwysers se taak wees om glimlagte op ons kinders se gesigte te sit.

“As ‘n kind presteer is hy of sy uit die aard van die saak gelukkig en dan sal daar ‘n glimlag wees. En wanneer ‘n kind gelukkig is, is die ouers ook gelukkig.”

Snyman, wat in Springs woon, se vrou, Alice, is ook in die onderwys en die egpaar het twee kinders, Louisa (25) en Martin (24).

Related Articles

Back to top button