Editor's choiceLocal newsNews

Worshond en kolgans is dik pêlle

‘n Ietwat ongewone vriendskap tussen ‘n miniatuur worshond en ‘n baba kolgans het die afgelope week ontwikkel, nadat die kolgansie uit sy nes geval en deur ‘n weldoener gered is.

Hannetjie Basson, van Germainslaan, hou al vir ‘n geruime tyd ‘n kolganspaar dop wat in ‘n palmboom, oorkant haar huis nes gemaak en gebroei het.

“Die boom is bietjie hoog en selfs met ‘n verkyker kon ons nie sien of daar baba’s was nie, maar ek het so vermoed,” het sy vertel.

Verlede Woensdag het sy nader gestap om te kyk of sy iets kon gewaar nie en toe sien sy ‘n piepklein kolgansie onder die palmboom lê.

“‘n Buurman het vir my gesê dat hy vroeër die dag gesien het hoe die twee volwasse kolganse met ses kleintjies wegstap. Ek is nie seker waarom net die enetjie agter gebly het nie,” het Hannetjie vertel.

Sy het haar oor die klein gansie ontferm en dit huistoe geneem.

“Ek was bietjie bekommerd oor my worshond se reaksie, maar die twee het sommer dadelik vriende geraak.”

Gansie, soos die kolgans gedoop is, loop die hele dag agter Floozy, die worshond, aan en die twee knip selfs ‘n uiltjie saam.

“Wanneer Floozy pap kry is Gansie gou by om saam te eet en Floozy lek weer aan die fyn mielies wat ons vir die gans gee.”

Hannetjie het ook groot houers met water uitgesit sodat die klein kolgans kan swem.

Sy het nog nie besluit wat om met die gans te doen nie, maar sy gaan dit waarskynlik aan ‘n famililid, wat ‘n plaas met ‘n dam het, gee.

Intussen geniet sy die woelinge tussen die worshond en die gans.

“Dit is amper soos twee stout kinders in die huis.”

Volgens inligting van die internet, leef kolganse in groot kolonies saam wanneer hulle nie broei nie. As die broeiseisoen aanbreek, vorm hulle pare wat baie territoriaal word.

Hulle sit gewoonlik op hoë plekke (byvoorbeeld in bome of op die dak van ‘n gebou) wat oor hul terrein uitkyk.

Kolganse is grasvreters; hulle word dus op grasperke en op sportterreine aangetref.

Soms maak hulle nes of slaap hulle in bome.

Soos ander eende, is hierdie voëls aangepas om in water te leef. Hulle het gewebde voete om mee te swem en waterbestande vere wat hulle glad stryk om dit waterdig te hou.

Hulle word langs riviere, op damme en in vleilande en selfs op strande aangetref.

 

Meer foto’s

Related Articles

Back to top button