LettersOpinion

Skolier vloek en skel motoris erg

Alicia Bruwer van Brakpan-sentraal skryf: Ek wil graag my misnoeë uitspreek met die gedrag van ‘n hoërskool kind tydens ‘n voorval wat onlangs plaasgevind het.

Ek wil bitter graag die naam van die skool noem maar dit sal onregverdig wees aangesien ek glo dat hierdie kind maar net ‘n vrot appel in die mandjie is.

Ek het verlede Donderdag by die Spar naby my huis stilgehou om ‘n paar goedjies te kry. Toe ek ry het ‘n seun op ‘n wit motorfiets voor my gery en terwyl hy gery het, het hy op sy selfoon gekyk.

Hy het wel stadig gery maar dit het my verstom dat, iemand wat op ‘n motorfiets ry, terselfdertyd op ‘n selfoon kan kyk. Dit het gelyk of hy ‘n boodskap tik.
Die seun het heen en weer oor die pad beweeg en ek kon nie verby kom nie. Ek wou in elk geval nie die kans waag nie. Ek het liggies getoet en hy het half geskrik en uit die pad geswaai. Selfoon nog steeds in die hand.

Ek het stadig verby hom gery en my kop geskud. Dit is toe dat hy sy valhelm afpluk en vreeslik begin vloek en skreeu.
My motorvenster was oop en ek kon alles hoor. Ek kan nie glo dat daar soveel walglike vloekwoorde uit een mens se mond kan kom nie. Sy handgebare het natuurlik bygedra tot sy uitbarsting.

Ek wou eintlik terugry om die motorfiets se registrasienommer te kry maar ek was regtig bang vir die kind wat soos ‘n besetene te kere gegaan het.

Ek het niks verkeerd gedoen nie. Hy het talle padreëls oortree en dan vloek hy my. As daar ‘n motoris was wat vinniger gery het of nie oplettend was nie sou die kind dalk nie so gelukkig gewees het nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button