Editor's choiceLocal newsNews

Gereelde ongelukke kan voorkom word

‘n Inwoner van Springsweg is raadop, nadat ‘n voertuig verlede Donderdagoggend vroeg deur sy voormuur gebars het.

Abraham van Zyl het ook goeie rede om so te voel, aangesien dit ongeveer die 20ste keer is dat ‘n motor deur sy hek of voormuur geploeg het.

Van Zyl woon die afgelope 35 jaar in Springsweg, op ‘n skerp draai (oorkant Sallies Village) en poog al jare lank om ‘n oplossing vir die probleem te vind.

“Ek is nie die enigste persoon wat hierdeur geraak word nie. Bure van my, aan beide kante van die pad, se mure en hekke het ook al vele male in die slag gebly,” het van Zyl gesê.

Hy en sy vrou, Toupie, het Donderdagoggend om ongeveer 1.22vm ‘n slag gehoor en gou besef dat daar weer ‘n voertuig deur hul muur gebars het.

Die bestuurder van ‘n blou BMW het van die werk afgekom, toe hy beheer verloor en deur die muur gery het. Hy het ‘n skouerbesering opgedoen.

Van Zyl meen dat die grootste oorsaak spoed is.

“Springsweg is lank en mense hou gewoonlik nie by die 60 kilometer per uur spoedgrens nie,” het hy gesê.

Dit is vir die van Zyl gesin ook ‘n nagmerrie om by hulle oprit in te draai.

“Ons weet al om lank voor die tyd ‘n flikkerlig aan te sit om aan te dui dat ons gaan draai, of ons ry bloot stadiger om die mense agter ons te forseer om ook spoed te verminder.”

“Dit gaan dikwels gepaard met motoriste wat erg befoeterd raak,” het hy gesê.

‘n Stopstraat aan die oorkant van die van Zyl’s se woning word ook gereeld verontagsaam ten spyte van die verkeersdepartement se gereelde optrede daar.

“Die spoedgrens vir Springsweg word duidelik aangedui en daar is ‘n bord wat aandui dat dit ‘n hoë risiko ongeluksarea is.”

”Dit is egter nie genoeg nie. Baie mense gaan nog seerkry en of hul lewens verloor,” het van Zyl gesê.

Hy glo die enigste uitweg sal spoedwalle wees, soos dié wat in Hospitaalweg, Brakpan-Noord, aangebring is.

Dit sal motoriste dwing om stadiger te ry en sodoende sal ‘n groot probleem en gevaar opgelos word.

Related Articles

One Comment

Back to top button