Local newsNews

Klasse vir kleuters

Bywoning van minstens die graad R- klas van ‘n kleuterskool of laerskool is vandag ‘n baie belangrike, byna noodsaaklike stap, om te verseker dat ‘n kind skoolgereed sal wees, wanneer hy of sy met hulle skoolloopbaan begin.

Vir baie kinders is hierdie voorreg egter nie beskore nie, aangesien die ouers dit bloot nie kan bekostig nie.

Die Brakpan-tak van Dames Aktueel, ‘n Afrikaanse kultuurorganisasie, het hierdie probleem daadwerklik aangespreek en drie jaar gelede begin met ‘n kleuterskooltjie in die kleine, bekend as die VIA-Vinkies, waar klasse twee dae per week gratis aangebied word vir kleuters van vier tot ses jaar.

Hier word die Suid-Afrikaanse kurrikulum vir graad R gevolg en besondere aandag gegee aan die verskillende aspekte van skoolgereedheid.

Die bestuurder van die projek, Rina Aucamp, het verduidelik dat aangesien die klasse slegs twee keer ‘n week aangebied kan word, word daar van die ouers verwag om hul kinders ook tuis te help om vaardighede te ontwikkel en te bemeester en om kennis vas te lê.

“Om die ouers hiermee te help, word ouerleidingklasse ook weekliks aangebied, waar ouers (gewoonlik die ma) ingelig word oor wat tuis gedoen kan word om die kleuter te help ontwikkel,” het Aucamp gesê.

“Verder word onderwerpe soos ouerbetrokkenheid, dissipline, die voorbeeld wat die ouer stel, gesinsverhoudings ens., behandel, terwyl ouers ook die geleentheid kry om hul eie probleme met die opvoeding van hul kinders te bespreek.”

Volgens Aucamp geniet die ma se persoonlike belangstellings en ontwikkeling ook baie aandag gedurende hierdie klasse.

Klasse vir die kleuters word Dinsdae en Donderdae van 9vm tot 12middag in die kerksaal van die Hervormde Kerk te Parkstraat deur Aucamp en Antoinette van Tonder aangebied, en die ouerleidingklasse op Donderdae, van 9vm tot 10vm, deur Esther Rothman en Marieta van Staden, ook by die Hervormde Kerk.

“Om hierdie projek aan die gang te hou is Dames Aktueel volkome afhanklik van bydraes en skenkings uit die gemeenskap en ook van donasies wat van tyd tot tyd ontvang word van ander belangstellendes,” het Aucamp verduidelik.

“Ons sê graag baie dankie vir die ondersteuning wat ons gedurende 2013 ontvang het.

“Dit het daartoe bygedra dat ons weer die vier kleuters wat vanjaar skool toe gaan elkeen kon voorsien van ‘n stel skoolklere en ‘n skooltassie, volledig toegerus volgens die onderskeie skole se voorskrif.

“Danksy die mildelike bydrae van ‘n maatskappy, is 10 gesinne ook gedurende Desember aangenaam verras met ‘n groot en baie welkome voorraad kruideniersware.

“Ons is ook baie dankbaar vir al die ondersteuning en bydraes wat ons van Honkie Ponkie Kleuterskool, onder leiding van Antoinette van Zyl, ontvang.”

n Die organisasie Solidariteit het ook gedurende 2013 vir Aucamp (by wie die gedagte om met hierdie projek te begin ontstaan het, dit aan die gang gekry het en steeds daarby betrokke is as projekbestuurder) met die Solidariteit Sterre-in-die-Gemeenskaptoekenning te vereer.

VIA-Vinkies het vanjaar nog plek vir ‘n paar kleuters en ouers wat graag hulle kinders wil inskryf, of enige een wat meer van die projek wil weet, kan gerus vir Aucamp skakel by 011 742 1280 of 082 2663423.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button