Local newsNews

Teleuraanval in Kenia: Anker speler is veilig.

‘n Rugbyspeler van Hoërskool Die Anker, wat tans in Kenia toer, is veilig.

Hugo Claasen toer tans saam met die o-14 Springbok Bokkiespan en sy ouers het Saterdag met skok verneem van die bloedige terreuraanval in ‘n winkelsentrum in Nairobi, waarin 68 mense dood is.

“Ons was by ‘n funksie, maar toe ons van die aanval hoor het ons dadelik huistoe gegaan en probeer uitvind wat aangaan,” het Hugo se ma, Cindy, gesê.

“Ons kon nie met Hugo kontakmaak nie, maar ons kon later met een van die afrigters praat, wat ons verseker het dat Hugo en die hele toerspan veilig is,” het Cindy gesê.

“Die groep het Saterdagmiddag na Mombasa vertrek en hulle keer eers Woensdag weer terug na Nairobi, waar hulle hul laaste wedstryd sal speel.

“Ek is nie seker of daar fout is met Hugo se foon nie, maar ons kon sedert Saterdag nie met hom praat nie.

“Dit is baie frustrerend, maar ons weet darem dat almal veilig is, en dit is ‘n baie groot verligting.”

Ten minste een Suid-Afrikaner is onder die 68 mense wat in die terreuraanval in ‘n luukse winkelsentrum gesterf het.

Hugo het tydens die onlangse Bokkieweek, in Naboomspruit, vir Oos-Transvaal baie goed presteer en hy het in twee van sy drie wedstryde die toekenning vir Speler van die Wedstryd ontvang.

Dié belowende rugbyspeler is na afloop van die die Bokkieweek gekies om saam met die o-14 Springbok Bokkiespan na Kenia te toer.

“Ek is baie opgewonde, maar ook bietjie skrikkerig; dit is die eerste keer dat ek alleen en uit skoolverband op ‘n toer gaan, maar ek besef dat dit ‘n groot tree in die regte rigting vir my is,” het Hugo kort voor sy vertrek gesê.

“Hugo is ‘n staatmaker in ons skool; hy is ‘n goeie atleet en ‘n baie goeie rugbyspeler,” het Rockey Truter, sportdirekteur van Die Anker, gesê.

“Ons is baie trots op hierdie oud-Môrewagter en hoop dat die toer vir hom ‘n belewenis is wat wat hy nooit sal vergeet nie.”

Related Articles

Back to top button